OpinionTerloops

Dis weer skarreltyd

Met die aanbreek van die groot dag word goedjies uit al die vertrekke van die groot huis gedra en in die klein kattebak van 'n "groot" motor geprop.

Ai, mense, kan julle glo dis alweer skarreltyd.

Skarreltyd is die tyd van die jaar wanneer ons mensdom soos rooimiere rondskarrel om dinge (en ons geld) klaar te kry en afgesluit te kry voor Kersfees en Nuwejaar.

Dit is asof dié tyd van die jaar een of ander snaakse uitwerking op ons almal het en ons skakel ons lewens oor na “skarrel-mode”.

Ek het al baie gedink hoeveel pret dit sal wees om ‘n videokamera hoog bokant die dorp te kan hê en ons mensdom af te neem terwyl ons herwaarts en derwaarts rondhardloop om die laaste goedjies voor Kerfees of die einde van die jaar af te handel.

Die pret kom in wanneer die video op vinnige spoed teruggespeel word en ons sien hoe ons soos afkop-hoenders rondhardloop

Vir die gelukkiges, of ongelukkiges (afhangend van hoe mens daarna kyk), wag daar miskien ‘n vakansie by die see of die een of ander vakansie-oord.

Iets om na uit te sien – of is dit?

Kom ons bekyk dinge deur die kamera daar hoog bokant ons.

Vir etlike dae voor daar vertrek word, word tientalle uittogte na winkels gemaak om die nodige “vakansie-goed” aan te skaf.

Met die aanbreek van die groot dag word goedjies uit al die vertrekke van die groot huis gedra en in die klein kattebak van ‘n “groot” motor geprop.

Terloops, ‘n vakansie word ook ‘n “wegbreek” genoem, maar in baie gevalle word die dinge waarvan daar eintlik weggebreek moet word, soos die TV, DSTV-dekodeerder, videospeletjies en talle ander “kan-nie-sonders” saamgeneem.

Vir sommige is die taak oënskynlik makliker omdat die sleepwa (wat steeds heelwat kleiner as die huis is) saamgesleep word.
Ai, ou Grote, hoe maklik kan ons onsself regverdig.

Daar was op ‘n tyd ook mense wat groot gegaan het en ‘n hele woonwa saamgesleep het! Mens sien deesdae nie meer baie van hulle nie. Ag, ou Grote, lag ‘n bietjie – ag toe!

By die vakansiebestemming word alles weer uitgepak en by ‘n plekkie ingedra wat heelwat kleiner is as die huis daar ver in die tuisdorp.

Die beweegruimte waarin die gesin vir ‘n paar dae moet leef, is heelwat meer beperk as daar by die huis en ná ‘n paar dae se redelike beknoptheid is dit weer skarreltyd om alles in trurat te moet doen.

Uitpak, skoonmaak en wegpak. Dan sit Mammie ook met hope wasgoed. En ná alles sê ons ons het “lekker” vakansie gehou!

Ja-nee, ek dink dit sal baie komieklik lyk vanuit die oog in die lug.

Maar nou-ja, overgesetsynde en desnieteenstaande (om 7de Laan se Oubaas aan te haal), ‘n mens bly maar ‘n interessante en snaakse wese. Dit is tog wat ons almal uniek maak.

Lekker skarrel en geniet die “wegbreek”.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Related Articles

Back to top button