Local newsNewsOpinionTerloops

Bokke, tweetjies en drietjies

"Nou hoekom vat jy nie die job as Springbok-afrigter en keurder nie en sit sommer ook die fluitjie in jou mond en word dan ook die ref!"

Hoe wonderlik was dit tog nie om oor die afgelope naweek van alles te kon vergeet en saam met die res van Suid-Afrika na onse Bokke se amper-wenslag te kon kyk.

Ek weet ons het eintlik met drie punte verloor en nie met twee punte soos ons wil glo nie, maar twee is minder as drie en dit val sagter op die oor. In dié geval troos dit ook ‘n bietjie meer as drie en ons verkies dit so.

Hoe nou? Die telling was dan 20-18! Dit weet ek, maar twee punte sou die telling gelykop gemaak het en dit is tog nie ‘n wen nie. Drie punte sou aan ons ‘n wen besorg het, so eintlik het ons met drietjies verloor. “Drietjies” is ook sagter op die oor as “drie”.

Die braaivure het ook maar saam met die skeidsregter se eindfluitjie verflou, maar tog kon ons skouers optrek, mekaar troos en onse Bokke jammer kry.

Vir ‘n paar uur was miljoene Suid-Afrikaners uit alle oorde verenig in hul ondersteuning vir die Bokke en vir mekaar.

Die nasionale krieketspan, die Proteas, het ons gemoedere darem weer Sondag tot nuwe hoogtes gekolf en die glimlagte vir ‘n wyle laat terugkeer.

Toe kom Maandag-oggend! Die radio is aan om mens net ‘n aanduiding te gee van wat elders in die wêreld aangaan, terwyl die tyd vir werk toe gaan aanstap.

‘n Sekere sportverslag-gewer of sportontleder of wat hulle hom ookal noem op ‘n sekere radiostasie is aan die woord en hy hou nabetragting. Mense, maar hy gaan aan en hy kritiseer en sê sleg en dis hier te lank en daar te kort.

Bykans niemand in die span het iets reg gedoen nie en dié een moes daai beweging uitgevoer het, hy weet nie wat soek dié speler in die span nie. Die afrigter is nie sy sout werd nie en die roomys was warm en die kos was koud. Ai tog!

“Nou hoekom vat jy nie die job as Springbok-afrigter en keurder nie en sit sommer ook die fluitjie in jou mond en word dan ook die ref!” skree ek vanuit die badkamer. Eintlik het ek “bek” gesê en nie “mond” nie, maar dis hoe dit gaan as mens kwaad is.

Toe tref dit my. Hoekom nie? Hoekom stel hulle nie vir meneer Alwetend aan in al drie betrekkings nie.

Laat hy dan die Bokspan kies, afrig en sommer ook dan die wedstryde blaas. Dan is al ons rugbyprobleme op ‘n einde en die wenpad lê voor ons uitgestrek soos ‘n snelweg deur ‘n woestyn.

As hy sukkel om by als uit te kom, kan hy helpers kies uit die geledere van die braaivleisvuurmaatjies wat ook alles weet.

Daar’s baie kenners om van te kies.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Related Articles

Back to top button