Editor's choiceLocal newsMunicipalNews

AfriForum herstel talle slaggate

AfriForum sien uit daarna om in die toekoms nog projekte saam met Msukaligwa munisipaliteit aan te pak.

AfriForum se Ermelo-tak het in samewerking met die Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit ‘n projek van R60 000 van stapel gestuur om slaggate in die dorp te herstel.

Die projek het deel gevorm van AfriForum se landwye 10 Dae van Selfstandigheid-veldtog. Slaggate in John Vorsterweg is die eerste wat tydens die projek opgevul is.

Tydens die AfriForum-veldtog is meer as 100 verskillende aksies aangepak wat onder meer gefokus het op die herstel van slaggate, skoonmaak van vullisterreine, begraafplase en strate, die herstel van straatligte asook die behandeling en skoonmaak van besoedelde riviere.

Hein Gonzales, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Mpumalanga, het sy opgewondenheid uitgespreek oor die samewerkingsverhouding tussen AfriForum en die munisipaliteit.

“Ons het R60 000 se teer aan die munisipaliteit verskaf, wat op hulle beurt ‘n span werkers beskikbaar gestel het om die slaggate op te vul. Ons sien uit daarna om in die toekoms nog projekte saam met Msukaligwa munisipaliteit aan te pak.”

Die 10 Dae van Selfstandigheid is aangepak in aanloop tot Saterdag, 10 Oktober toe die Solidariteit-beweging sy toekomsberaad in Pretoria gehou het.

Tydens dié beraad is omvattende planne bekend gemaak om die resolusies wat op 5 Mei vanjaar deur die Krisisberaad geneem is, te verwesenlik en om te verseker dat Afrikaner ‘n toekoms sal hê waarbinne hulle vry, veilig en voorspoedig sal wees.

‘n Pleidooi is aan die publiek gelewer om by die plaaslike Afriforum-tak 46 betrokke te raak deur “Ermelo” na 4535 te SMS teen ‘n koste van R1 per sms.

 

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Related Articles

Back to top button