OpinionTerloops

As die toekoms wink

Almal deel dieselfde bekommernisse en die ouerharte is maar seer oor die plekkie in die huis wat waarskynlik volgende jaar leeg gaan wees.

Verlede week was die plaaslike koerante se bladsye gevul met foto’s van jongmense in aandklere wat gereed staan om hul skoolloopbane op ‘n glansryke manier af te sluit. Almal ewe pragtig, vol selfvertroue en met groot glimlagte op die gesig.

Deur my oë was hulle ‘n groep wat op die drumpel van die grootmenswêreld staan en die gemaksone wat die skoollewe gebied het, moet groet.

Ek het die voorreg gehad om drie keer ‘n kind te help voorberei vir die matriekafskeid en het elke keer deur die emosie van “nou is my kind groot” gegaan.

Vir my was dit elke keer ná sowat 18 jaar nie baie maklik om te aanvaar ek moet nou die nessie oopmaak en die voëltjie laat vlieg nie.

Twee het dadelik ná skool hul vlerke tot in die Kaap en selfs Skotland gesprei en menige nag was die kussing maar nat en die bekommernis en verlange groot.

Met die genade van Bo het hulle hul nissies gevind en is vandag base van hul eie plase met ma en pa as gereelde gaste in hul huise.

My bekommernis dat hulle nie die mas gaan opkom om huishoudings so saam met die werkery te kan bestuur nie, was genadiglik bloot verniet.

Ek het met ‘n paar ma’s en selfs pa’s gepraat en ek is duidelik nie enigste een wat dit moeilik gevind het om te laat gaan nie. Almal deel dieselfde bekommernisse en die ouerharte is maar seer oor die plekkie in die huis wat waarskynlik volgende jaar leeg gaan wees.

Vir jare het ons as ouers besluit wat goed is vir ons kinders al dan nie en skielik staan hulle gereed om hul eie besluite te neem.

Gebede en vertroue dat ons oor die jare heen die regte grondslag gelê het, is al wat kan maak dat ouers dan nog rustig slaap.

Ek gebruik ook graag die geleentheid om hulde te bring aan onderwysers wat vir 12 jaar van hul lewens ‘n groot rol in ons kinders se lewens gespeel het en ‘n stewige bydrae gelewer het tot die volwassenes waarin hul ontwikkel het.

Nou is die glansryke gedeelte van skoolgaan agter die rug en begin die gr. 12-leerders gereed maak vir die laaste groot skooleksamen en dan universiteitsloopbane of werke wat wag.

Aan al die ouers: mag julle die vertroosting vind wat julle gaan nodig hê om boetie of sussie die wye wêreld in te laat gaan en te weet hulle sal heel anderkant uitkom.

Aan die jongelinge: my beste wense vergesel julle en mag Hy wat vanaf daardie eerste “bang” skooldag jou hand vasgehou het en jou deur jou skoolloopbaan gelei het, jou ook verder op jou lewenspad vergesel en mag al jou drome waar word.

Sterkte vir die eksamens wat voorlê en die groot besluite wat geneem moet word.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Related Articles

Back to top button