CrimeLocal newsNews

Alice se moordenaar 15 jaar tronk toe

"Ek is baie bly die saak is nou uiteindelik afgehandel. Nou kan my dierbare vriendin in vrede rus."

Lourens Geldenhuys ‘n 45-jarige doof-stomme is Dinsdag, 4 Augustus in die Chrissiesmeer Streekhof tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Alice Caroline Farinha (66) op 14 November 2013.

Geldenhuys het by me. Farinha geloseer en was bekend onder inwoners van die dorp waar hy los werkies as nutsman en skrynwerker verrig het.

Me. Farinha se bebloede lyk is op haar bed in haar slaapkamer ontdek toe ‘n jarelange vriendin, me. Marie Smith, deur ‘n venster geloer het nadat sy (me. Farinha) nie die vorige aand vir ‘n ete-afspraak opgedaag het nie en ook nie haar telefoon geantwoord het nie.

Die hulp van ‘n buurman is ingeroep en die huis is binnegegaan.
Me. Farinha se lyk is op die bed in haar slaapkamer gekry.

Geldenhuys het met bebloede hande langs die oorledene gelê.

Die polisie is in kennis gestel en Geldenhuys, wat na bewering ‘n oordosis pille gedrink het, is na die Carolina Provinsiale Hospitaal geneem waar hy behandeling ontvang het en die volgende dag ontslaan is.

Me. Farinha is deur me. Smith beskryf as ‘n vredeliewende mens wat altyd bereid was om haar medemens te help.
“Sy was net goed vir Lourens. Sy het hom gehuisves en soms selfs gestap na die plekke waar hy gewerk het om vir hom middagete te neem.

Ek is baie bly die saak is nou uiteindelik afgehandel. Nou kan my dierbare vriendin in vrede rus,” het me. Smith vanuit Langebaan waar sy nou woon, laat weet.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Related Articles

Back to top button