OpinionTerloops

O, die pyn!

Nooit weer sê ek sommer net so in die verbygaan "Ag, skies man" vir iemand wat in pyn verkeer nie of maak ek dit af as pieperigheid nie.

Ek geniet dit om na heruitsen­dings van somminge ou televisiereekse te kyk.
In een reeks verwys ‘n vrou gereeld na die vreeslike pyn wat sy vir ‘n kort rukkie moes verduur, maar laat dit klink asof dit sewe dae en sewe nagte aangehou het en asof sy die enigste vrou is wat ooit in barensnood verkeer het.

Ek het nog altyd die humor gesien en haar pyn nie ‘n tweede gedagte gegee nie.

Verlede week het ek na ‘n televisieprogram gekyk waarin die bekende sangeres Annelie van Rooyen haar verskyning gemaak het en waarin sy ook vertel het dat sy weens ‘n operasie aan haar gesigsenuwees, aanhoudende pyn in haar gesig verduur.

Weer het ek gedink: “Foeitog, die arme vrou” en dit nie ‘n verdere gedagte gegee nie.

Artikels oor TT Cloete en Clive Rice vertel van hul moedige stryd teen kanker en pyn tot aan die einde. Hul dapperheid dwing respek by my af.

Sosiale netwerke herinner my gereeld aan ‘n ander soort pyn. Dié van mense wat ‘n geliefde aan die dood moes afstaan en sukkel om die pyn en hartseer te verwerk. Ek raak gewoonlik dan vir ‘n oomblik stil en dra hulle in my gebede op.

Verlede week word ek een aand laat wakker met tandpyn. Nou, almal wat al tandpyn gehad het, weet dit is die irriterendste, aanhoudendste pyn wat net nie einde kry nie.

Ek weet later nie of dit my verbeelding is nie, maar dit voel my of elke tand in my mond pyn en die tandpyn al is waaraan ek kan dink.

Ek begin toe ook sommer jammer voel vir almal van wie ek weet wat ook pyn verduur en wil soos die TV-karakter net kreun: “O, die pyn, die vreeslike pyn!”, maar kon my gelukkig daarvan weerhou.

Na ‘n slapelose nag en vele pynstillers, is my vriendelike tandarts genadiglik bereid om my gou te help met ‘n vroeë afspraak en ek begin lig aan die einde van my pynlike tonnel sien. ‘n Abses in my voortand word toe uitgewys as die sondebok en die nodige behandeling word voorgeskryf.

Ná sowat ‘n dag word die pyn beter en kan ek weer op ander dinge fokus, rustig in die wete dat die probleem binnekort opgelos sou wees.

Maar, wee of wee. Sondagoggend word ek wakker met die erge pyn weer van voor af terug.
Vir nog ‘n dag en nag oorheers die tandpyn weer my denke en vroeg Maandagoggend is ek terug in my besorgde tandarts se stoel.

Weer eens doen hy die nodige, skryf medikasie en behandeling voor en gee ons die probleem drie dae om homself met al dié hulp uit te sorteer.

Tandartse is duidelik slim mense, want ‘n dag later kan ek redelik pynloos hier sit en werk en glo dat die probleem teen Donderdag in ‘n redelike mate opgelos sal wees.

Nooit weer sê ek sommer net so in die verbygaan “Ag, skies man” vir iemand wat in pyn verkeer nie of maak ek dit af as pieperigheid nie.

Ek het op ‘n vreemde manier respek vir pyn gekry en dra dié rubriek op aan mense wat meer gereeld met pyn, ongeag fisiek of emosioneel, te doen kry.

Mag julle die krag kry om met ‘n glimlag deur julle dae te kom en dit wat ookal seerkry en pyn veroorsaak, te hanteer.

Related Articles

Back to top button