BlogsLocal newsNewsOpinionTerloops

Terloops – Almal het soms ‘n blaaskansie nodig

Is dit ’n geval van my huis is waar my hart is of moet ek sê my hart is waar my huis is?

Almal het soms ‘n blaaskansie nodig.

Ons was nou onlangs in die Kaap vir 10 sorgvrye dae.

Die pad Kaap toe is lank en dit voel by tye of mens net gaan aanhou en aanhou ry, maar net voor jy moedeloos word, verskyn die laaste stukkie van die Karoo en dan die pragtige Hexriviervallei en die Boland en uiteindelik lê Tafelberg lewensgroot voor jou.

Na 21 jaar in Ermelo, kry ek nog altyd die gevoel van “Ek is by die huis” wanneer die wingerde soos ‘n laslappie-kombers langs my lê en ek ou Tafelberg sien.

Dit is ‘n plesier om op die Kaapse paaie te ry.

Slaggate is iets wat hulle nie ken nie, die padpredikante wys die rigting duidelik en verstaanbaar aan en van waar ons tuis gegaan het, kan jy die see in ‘n ommesientjie vanaf drie verskillende rigtings bereik.

Lang wandelings langs die strand en besoeke aan wynplase en kuiers saam met my twee oudstes en saam met ander familie en vriende het ons dae gevul en nie een keer was die krane leeg nie en ons het net kerse gebrand om atmosfeer te skep. Die skakelaars het altyd gesorg vir elektriese lig indien dit benodig sou word.

‘n Oop bus het my weer Kaapstad en die omliggende gebied saam met toeriste soos ‘n toeris laat beleef en ‘n reünie saam met ou skoolvriende is ook ingepas.

Ouboet het ook in die tyd verloof geraak en dit was ‘n voorreg om ook in hom en sy toekomstige vroutjie se geluk te deel.

Nou vra julle seker: Was jy in ‘n ander wêreld of regtig net in die Kaap?

Glo my, dit was net sowat 1 600km van hier af en dit het gevoel of ek in ‘n ander wêreld bly.

Maar hier na dag sewe het ek begin kriewel.

Sowaar, ek het begin terugverlang na Ermelo.

Ons moes vir Sussie by die huis los, want sy moes werk.

Skielik het ek na haar begin verlang en gewonder of my ou hondjie nie al oor ons treur nie.

Is my tuin nie dalk droog nie? Is alles by die kantoor wel en eet Sussie darem gereeld? is vrae wat deur my kop begin maal het.

Met ‘n lied in my hart vir die voorreg daarvan het ons die Saterdag vir oulaas saam met die twee oudstes, hul gade en verloofde en Ouma gebraai en gaan slaap, rustig in die wete dat ons die volgende dag huis toe gaan, maar hulle in Desember weer sal sien.

Vroeg Sondagoggend het ons weer die langpad aangedurf.

‘n Pitstop op ‘n dorpie waar ‘n Afrikaanse televisiereeks wat ons tans volg, verfilm is en die opsoek van sekere van die huise, die kerk, winkel en hotel waar sekere van die tonele geskiet is, het die eentonigheid van die pad deur die Karoo darem gebreek.

Uiteindelik het ons Ermelo weer binne gery en voor ek my kom kry, is die gevoel van “Ons is by die huis” sowaar weer daar. Ek het dus twee huise!

Toe wonder ek: Is dit ‘n geval van my huis is waar my hart is of moet ek sê my hart is waar my huis is?

Ermelo het vir seker onder my vel ingekruip en ten spyte van kerse brand, water aandra en uitswaai vir die slaggate is dit steeds lekker om by die huis te wees.

Aan almal wat die naweek gebruik om weg te breek: ry asseblief versigtig en mag daardie Passasier wat altyd oor ons waak vir julle ‘n veilige reis verseker en julle reisgenoot wees.

Hy klim graag in en ry saam, ek weet. Al wat jy hoef te doen, is om Hom te nooi.

Geniet die ruskans.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button