CrimeLocal newsNews

Pasop vir dié motorslenter

Man doen hom voor as drywer - poog om motor te steel.

Die publiek word gewaarsku teen ‘n slenter waar motors op ‘n slinkse manier gesteel word.

Dié ou slenter het opnuut kop uitgesteek en dit is net die oplettendheid en vasberadenheid van ‘n huishulp wat gekeer het dat ‘n motor buitgemaak is.

‘n “Drywer” het by ‘n woning opgedaag waar die huishulp alleen by die huis was en gesê hy werk vir ‘n bekende motorhandelaar in die dorp.

Hy het aangevoer dat hy die motor kom haal het om gediens te word.

Hy het die motorsleutels gevra en die huishulp probeer oorreed dat alles tussen die eienaar en die motorhandelaar gereël is.

Selfs ‘n telefoonnommer is verskaf wat geskakel kon word om sy storie te bevestig.

Die nommer was vermoedelik dié van ‘n makker wat hom as die motorhandelaar sou voordoen.

In dié betrokke geval het die huishulp volstrek geweier dat die motor geneem word.

‘n Oproep na haar werkgewer het onthul dat daar nooit so ‘n reëling getref is nie en die “drywer” het hom uit die voete gemaak.

Die motorhandelaar het later ook bevestig dat daar nie só ‘n reëling met die motoreienaar getref was nie.

Die publiek word gemaan om werknemers in te lig oor enige reëlings wat getref is en te waarsky om nie vreemdeling summier te vertrou nie.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge TimesStanderton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button