CrimeNews

Pakkies dagga oral in motor versteek

Twee mense is by die Nerston-grenspos in hegtenis geneem nadat bykans 100 pakkies dagga oral in die gehuurde motor versteek gevind is.

Polisie by die Nerston-grenspos het verlede week op 94 pakkies dagga afgekom wat op verskeie plekke in ‘n motor versteek was.

Die gehuurde motor met twee insittendes,’n man en ‘n vrou, was van Swaziland na Suid-Afrika op pad.’n Inspekteur van die SA Inkomstediens het’n bruin pakkie op die agterste sitplek van die motor opgemerk en ondersoek ingestel.

‘n Klein hoeveelheid dagga is in die pakkie ontdek.

Die polisie is nadergeroep en verdere ondersoek het onthul dat pakkies verpakte dagga in ‘n deurpaneel van die motor versteek was.

Die motor is toe deeglik deursoek en nog pakkies is in ander deurpanele, agter die instrumentpaneel, in die enjinkompartement en in die kattebak versteek gevind.

Die dagga het altesaam 26,69kg geweeg en het ‘n geraamde straatwaarde van tussen R26 000 en R30 000.

Twee mense is in hegtenis geneem.

Related Articles

Back to top button