LettersLocal newsNewsOpinion

’n Briefie aan ’n Gr 1

Ek kyk jou vanoggend vir die 6de jaar stip in jou groot bolle bruin ogies… my moederhart klop vinnig, my asem is snak, my keel is droog en ek voel skielik weer magteloos en weerloos soos toe jy 6 jaar terug gebore is!

Januarie 2015

Ek kyk jou vanoggend vir die 6de jaar stip in jou groot bolle bruin ogies… my moederhart klop vinnig, my asem is snak, my keel is droog en ek voel skielik weer magteloos en weerloos soos toe jy 6 jaar terug gebore is!

Ek het jou vasgehou en gewonder hoe gaan ek hierdie babatjie groot kry! Vandag kyk ek in dieselfde bolle bruin oë en wonder hoe ek jou kan klein kry.

Jy lyk so pragtig in jou skoolklere en ek wens vir die soveelste keer dat ek die tyd kan terugdraai. Ek wens jy was weer in mamma se magie, dis mos jou veilige plekkie waar jy nie kan seerkry, seergemaak word of koud kry nie!

Ek is hartseer, ek is trots ek is dankbaar… ’n warboel van emosies. Ek sit my hand op jou been en knipoog vir jou…hierdie nabytyd saam met jou is net ’n trollierit lank!

Jy is reeds by die skool ingeskryf en as ek kon het ek jou sommer vandag weer uitgeskryf.

Ek vat jou hand stewiger vas. Vandag as jy deur die skoolhek stap, stap jy uit jou beskutte, vertroude wêreld – binne in die lewe in. En ek kan jou nie uitskryf nie – al wil ek jou hoe graag teen al die seermaakdinge buffer.

My hart slaan bollemakiesie, vorentoe en dan weer agtertoe. Klein triomfte, groot triomfte, klein teleurstellings, groot teleurstellings. Terwyl jy mislukkings en prestasies gaan beleef, leer jy ook om te lewe, leer jy dat mens seerkry, leer jy dat mens weer gesond word. Jy gaan nie altyd aan die wenkant wees nie, en ek kan jou nie altyd van teenspoed beskerm nie. Ek wil hê jy moet alles voluit doen, sonder vrees vir verloor of druk om te wen. Geniet elke oomblik – ons sal tyd maak vir genoeg speel en tyd maak vir ’n suigstokkie in die kies, want kleintyd is net ’n suigstokkie lank!

My kind, ek wil jou herinner en jy moet onthou, jou beste sal altyd goed genoeg wees vir Mamma.

Vandag los ek jou hand en die helfte van my hart by Juffrou se klaskamer, dis ‘n onbekende pad, maar een wat ons met rustigeid kan weet: Liewe Jesus stap saam met jou vandag by die skoolhek in maar Hy stap ook saam met jou die lewe in – regdeur tot aan die einde. Hy hou reeds jou bang handjie vas. Hy sê mos in Jesaja: “Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie… al is jy klein.”

Skêr my kwagga, hakuna matata….

Lief vir jou,

Mamma

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button