Local news

CMR-huismoeder verruil Ermelo vir Middelburg

Sy was vir die afgelope agt jaar ’n huismoeder vir die kinders vanaf vyf tot 12 jaar oud, en sê dat hoewel daar oomblikke van hartseer was, die goeie en lekker tye soveel meer was.

ERMELO – Michelle van der Westhuizen, die huismoeder van een van die huise van die CMR Kinder- en Jeugsorgsentrum, verruil binnekort dié dorp vir Middelburg.

Kort nadat sy die nuus op haar sosialemediablad gedeel het, het verskeie mense daarop reageer met boodskappe wat getuig van die verskil wat sy by die kinderhuis en in verskeie mense se lewens gemaak het.

Rina Bothma-Pieters het geskryf: “Oral waar jy gaan los jy voetspore. Daar in Middelburg gaan jy weer nuwe spore trap, en in Ermelo los jy diep spore wat nie deur enigiemand anders getrap kan word nie. Ek is opgewonde vir jou nuwe vooruitsigte.”

Gerda Smuts skryf: “Vir seker ’n steunpilaar in ons gemeenskap gewees. Maar jy gaan nou ’n verskil maak waar jy gaan. Sterkte met jou nuwe hoofstuk en dankie vir jou onbaatsugtige hulp in ons gemeenskap.”

Elsie de Jager het die volgende boodskap gelaat: “Sterkte vir die nuwe toekoms. Vir seker het Ermelo ’n engel sonder vlerke verloor. Die kinderhuis gaan jou mis, die kinders was mal oor jou.”

Van der Westhuizen sê dat sy op Middelburg ook by ’n kinderhuis gaan werk waar sy voel die kinders het haar nou meer nodig, en dit gee haar ook die geleentheid om nader aan haar eie kinders en kleinkinders te wees.

“Dit was altyd lekker om die opgewondenheid op die kinders se gesigte te sien wanneer ons die fietse in die bussie laai om te gaan ry, of wanneer ons besluit om aan die weeklikse parkrun deel te neem. Elke uitstappie was vir hulle ’n avontuur.”

Om 17 kinders daagliks kos te gee, met huiswerk te help en seker te maak daar word na elkeen se behoeftes omgesien is ’n taak wat sy met soveel deernis en passie aangepak het.

Sy het vir elke kind in haar huis ’n armband met hul name op gemaak om haar te onthou.

Lees die volledige berig in die Hoëvelder.

Related Articles

Back to top button