Editor's choiceGeneralLocal newsNews

‘Boetie, sy’s ’n (my) perskeblom’

Volkspele bring oom Pieter en tannie Miensie bymekaar

Oom Pieter en tannie Miensie de Wit was vandeesweek die fokus in Elmarie Cilliers se reeks onderhoude met bekende Ermeloërs.
Tannie Miensie was 42 jaar lank ’n onderwyseres by Laerskool Ermelo en het ook 34 jaar die boetiek Leenthas bedryf.
Oom Pieter word onthou vir sy aandeel by De Wit Motors en sy kunstige hand met blomme.
Dié dinamiese paartjie is reeds 60 jaar getroud en beskou hulself as geseënd met twee kinders wat baie goed is vir hulle.
Hulle is ook bevoorreg om kleinkinders te hê.
Dit was hul liefde vir Volkspele wat die paartjie bymekaar gebring het.
Oom Pieter vertel van die dae toe Ermelo ’n sterk laer gehad het en van die wonderlike toere deur die land en later ook ’n oorsese toer van drie maande.
Terwyl hy nog vertel van die internasionale eisteddfod in Wallis waar die laer opgetree het, trek oom Pieter sy rooi Volkspele-onderbaadjie met Suid-Afrikaanse blomme geborduur aan.
Tannie Miensie is nie links nie en sit die handgemaakte kappie op wat die niggies gedra het.
Oor ’n lekker koppie tee om die eetkamertafel keer die gesprek terug na tannie Miensie se dae as onderwyseres.
Laerskool Ermelo was toe nog ’n junior skool en leerders het net tot st. 1 (nou gr. 3) daar skoolgegaan.
Sy vertel van oom Burd Roberts, die eerste skoolhoof onder wie sy gewerk het, en sy onthou nog hoe lief die kinders vir hom was.
Die kleintjies het altyd uitgesien na hul verjaarsdag, want oom Burd sou elke Maandag met opening die verjaarsdagkinders hoog in die lug optel en ’n groot ophef van hulle maak.
Tannie Miensie onthou baie van die kinders en vertel van die “Cellierstjies, Van der Merwetjies, Randalltjies en ondeunde Oubaas de Jager” wat in haar klas was.
Sy het die kinders van kort na lank laat sit sodat sy haar oog op elkeen kon hou.
Tannie Miensie het vreeslik geheg geraak aan die kinders en dit was die einde van elke jaar ’n tranedal as hulle uitmekaar moes gaan.
Dié egpaar is nie vir een oomblik ledig nie. Tannie Miensie kook, brei en lees graag en hoewel sy nie meer self klere maak nie, stik sy nog hier en daar ’n naat.
Oom Pieter vertel trots dat tannie Miensie tot op 70 nog tennis gespeel het, Volgens haar was hulle sommer ’n “spul ou vrouens” wat hulself die “golden oldies” genoem het.
Tegnologie is ook nie vir dié twee ’n uitdaging nie.
Met Kaboedel op die tablet gelaai, Facebook en Twitter bly hulle op hoogte van sake en in voeling met familie en vriende.
Op die vraag wat hul toekomsplanne is, antwoord hulle met gemengde gevoelens. Hulle wil graag nader aan hulle kinders wees, maar die gedagte om Ermelo dalk te verlaat, is vir hulle baie moeilik.
Oom Pieter beaam dit deur te sê as hulle Ermelo moes verlaat, dit baie jare gelede al moes gebeur het.
Hulle het nou te veel vriende en kennisse hier en as hy gaan inkopies doen, is daar om elke hoek en draai ’n bekende.
Tannie Miensie lag en sê dat jy nie saam met oom Pieter inkopies moet doen as jy haastig is nie.
Tyd staan nie stil nie en die kuiertjie moet tot ’n einde kom, maar een indruk sal blywend wees: dis liefde, respek en ondersteuning wat dié twee so spesiaal maak.

Related Articles

Back to top button