GeneralNews

Plaasaanvalle neem toe, sê TLU SA

Die militêre presisie waarmee sekere van die aanvalle beplan word, plaas ook ernstige vraagtekens oor wie daaragter sit,” sê mnr. Geldenhuys.

TLU SA het onlangs die halfjaarlikse syfers van plaasaanvalle en -moorde in die land bekendgemaak.
Die Ermelo-omgewing is vroeër vanjaar ten nouste geraak deur minstens twee aanvalle.
’n Bejaarde boer, mnr. JR Bührmann, in sy plaashuis dood aangetref en enkele dae later is die De Villiers-egpaar op hul plaas Blaaukop deur booswigte beroof, gebrand en aangerand
Volgens mnr. Henry Geldenhuys, adjunk-president van TLU SA en voorsitter van die Veiligheidskomitee, blyk dit dat daar in die eerste ses maande van vanjaar 30 mense op plase vermoor is.
Dit is dieselfde getal plaasmoorde as gedurende die ooreenstemmende tydperk van verlede jaar.
Mnr. Louis van Wyk, neef van TLU SA se president, mnr. Louis Meintjes, is ook oorlede nadat hy nie herstel het nie ná ’n plaasaanval op 24 Mei vanjaar op sy plaas naby Brits.
In een van die jongste voorvalle is ’n lid van TLU SA, die 55-jarige mnr. Rudolph Pretorius, op sy plaas Bloempoort buite Groblersdal vermoor.
TLU SA het ook dié moord ten terkste veroordeel en sy meegevoel met mnr. Pretorius se familie betuig.
“Wat egter verontrustend is, is dat die aantal plaasaanvalle toegeneem het van 106 verlede jaar tot 124 vanjaar.
Dit is dus duidelik dat die aanslag op boere in terme van veiligheid aan die toeneem is.
Die feit dat die getal sterftes nie insgelyks toegeneem het nie, is te danke aan groter waaksaamheid onder boere, en die feit dat TLU SA se landelike beveiligingsplan steeds wyer geïmplementeer word,” het mnr. Geldenhuys gesê.
In die lig van die jongste syfers verwelkom TLU SA die Menseregte-kommissie (MRK) se aankondiging dat hy ’n ondersoek na plaasmoorde wil onderneem en openbare insette daaroor gaan inwin.
“Ons dring al jare by die owerheid daarop aan dat plaasmoorde behoorlik ondersoek moet word, veral die ware redes daaragter.
Ons vra al geruime tyd vrae oor die motief agter sekere plaasmoorde, as mense gemartel en vermoor word, sonder dat daar noemenswaardige eiendom gevat word.
Die militêre presisie waarmee sekere van die aanvalle beplan word, plaas ook ernstige vraagtekens oor wie daaragter sit,” sê mnr. Geldenhuys.
TLU SA beplan om ook ’n voorlegging aan die MRK te maak as deel van sy nasionale veldtog teen plaasaanvalle.
TLU SA se internasionale bewusmakingsveldtog gaan intussen onverpoosd voort.
“Die feit dat die MRK die saak gaan ondersoek, beteken helaas nog nie dat daar daadwerklik opgetree gaan word nie.
Daarom gaan ons met ons bewusmakingsveldtog voort.
Daar is nog ’n lang pad wat voorlê voordat ons verwag dat die regering iets daadwerkliks aan dié toestand sal of wil verander,” sê mnr. Geldenhuys.
“Ons is egter bekommerd dat die MRK se ondersoek na plaasaanvalle oorskadu kan word deur ’n gelyklopende ondersoek na werkers se omstandighede op plase.
Die twee sake behoort apart ondersoek te word en aparte bevindinge behoort daaroor gemaak te word,” het mnr. Geldenhuys gesê.

Related Articles

Back to top button