Local newsNews

Leerlinge toegerus met nodige kennis tydens AfriForum se teenboelieveldtog

Kinders word ook geleer om tussen afknouery en konflik te onderskei.

ERMELO – Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 16 Februarie by die Ermelo English Primary School, Ligbron Akademie vir Tegnologie en Laerskool JJ van der Merwe gaan besoek aflê.

Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ‘n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan,” het me. Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap, gesê.

“Veilige skole sorg ook vir ‘n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms.”

Volgens haar word elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as ‘n leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind.

Kinders word ook geleer om tussen afknouery en konflik te onderskei.

Hoërskoolleerders is ook meer ingelig oor die gevare rondom kuberafknouery.

“AfriForum het waardevolle inligting oor boeliegedrag aan die Liggies oorgedra. Afknouery is ongelukkig ‘n realiteit en die Liggies het wenke van onskatbare waarde ontvang wat hulle bemagtig om teen boelies op te staan,” het me. Saretha Ferns, ‘n jeugwerker by die Ligbron Akademie gesê.

Matteus (AfriForum se gelukbringer), me. Leandie Bräsler (AfriForum) en Simion van der Merwe van Laerskool JJ van der Merwe tydens ‘n teenboelieveldtog. (Foto: Verskaf)

“Die bewusmaking van afknouery is van kardinale belang, aangesien die leerlinge weens sosiale media meer daaraan blootgestel word,” het me. Erika Bester, ‘n onderwyser by Laerskool JJ van der Merwe, gesê.

“Leerlinge moet leer hoe om dit te hanteer en sonder die nodige bewusmaking, weet hulle nie altyd hoe om korrek op te tree in boeliesituasies nie.”

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog, besoek gerus www.teenboelie.co.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button