CrimeNews

Ermeloërs bloos en boos oor prostitute

Die inwoners het gekla oor mense wat halfkaal voor hul huise op plastiekkratte sit en drink, waarna die drankbottels net daar op die sypaadjies gelos word.

ERMELO – Inwoners het onlangs hul kommer uitgespreek dat hulle voel die polisie sit agteroor terwyl bordele talle strate oorneem.

Een van die dorpenaars wat anoniem wil bly, het gesê hulle het al menigmaal polisievoertuie by die huise opgemerk en het al begin wonder wat hulle daar maak.

Sy het gesê dat die polisie al verskeie kere uitgeroep is, waar die bewoners van die bordele in Robertsonstraat tot vroegoggend so hard in die strate geskree en baklei het, dat geen mens kon slaap nie.

“Sowat vyf uur later het die rumoer opgehou en steeds het die polisie geskitter in hul afwesigheid.”

Die inwoners het gekla oor mense wat halfkaal voor hul huise op plastiekkratte sit en drink, waarna die drankbottels net daar op die sypaadjies gelos word.

Hulle beweer dat gebruikte kondome en ander vullis ook op die sypaadjies gegooi word vir ander om skoon te maak.

Volgens die inwoner word die vroue ook voor hul huise opgetel, nadat daar op die motortoeter gelê word.

“Ons sien gereeld hoe jongmense met rugsakke die persele ingaan en weer verlaat, en hoe die rugsakke gevul word met wat lyk soos teesakkies.”

’n Ander inwoner het vertel dat hulle te bang is om vir ’n naweek weg te gaan, omdat die diefstal in hul straat toegeneem het.

Lees die volledige berig in vandeesweek se Hoëvelder.

Related Articles

Back to top button