EntertainmentLifestyle

“Worsie se ma” is dood!

huldeblyk aan Marga van Rooy deur Frans Swart, Besturende Direkteur van Lefra Produksies.

“Worsie se Ma” is dood.  Marga van Rooy is nie meer met ons nie.  Hoe kan ons in die vermaaklikheidsbedryf ons voorstel sonder ‘n Marga van Rooy?  Sy was ‘n wonderlike aktrise en net so ‘n wonderlike mens en vriend.  Marga was veral bekend vir haar komiese rolle, maar sy was net so ewe tuis op die verhoog in meer ernstige rolle.

Ek en Marga het op verskeie projekte saam gewerk.  Meer onlangs het sy vir my gespeel in die klugte, MY BOETIE SE BOETIE SE BOETIE SE BABA as die kwaai maatskaplike werker, Mev Poggenpoel.  Verlede jaar was sy te sien in DAA’ GAAT DIE BRUID as Ouma Daphne.  Marga se komiese tydsberekening was ongeloofliik goed en in die kol.  As regisseur het sy dit vir my so maklik gemaak, want as ek vir haar ‘n nota gegee het, het sy die aand gaan werk sodat sy dit perfek die volgende dag vir my kon speel soos ek dit gesien het.  Marga was seker een van die mees professionele aktrises waarmee ek in my loopbaan gewerk het … altyd op haar stoeltjie op “standby” by watter deur sy ookal moes inkom.  ‘n Mens het nooit na Marga gesoek nie … sy was altyd op die verhoog … reg om te perform.  Sy het mildelik van haar kennis gegee wat ek as regisseur en ander spelers met vrug kon gebruik.  VIr my was die lekkerste as Marga haar eerste “entrance” op die verhoog maak, het sy altyd luide applous van die gehoor ontvang.  So asof gehore altyd wou sê: “Ons verwelkom jou Marga!”  Ons was baie bevoorreg dat Marga nog vir ons in DAA’ GAAT DIE BRUID tot laat verlede jaar kon optree voor sy siek geword het.  Dit is eintlik wonderlik dat sy amper tot op die einde kon doen waarvoor sy so lief was … toneelspeel!

Marga was wyd belese en ek gaan beslis ons geselsies oor Van Wyk Louw, Brecht, Chekhov en Moliére baie mis.  Marga was bekend daarvoor dat sy regisseurs en spelers uitdaag om jou tot groter hoogtes aan te spoor.  Daardie kameraadskap gaan ek beslis mis.  Wat ek miskien die meeste gaan mis, is Marga se wonderlike vriendskap en menswees.  Die mooi hoede en haar lewensvreugde.  By Lefra het ons ‘n tradisie van ‘n tequilatjie en drankie na openingsaand. Alhoewel Marga al diep in haar sewentigs was, is sy altyd saam met my en die spelers vir (soos sy dit genoem het) ‘n night cap.  Totaal deel van die span en haar heerlike uitbindige laggie as iets snaaks op die verhoog gebeur het.

Marga van Rooy … jy laat ‘n wonderlike nalatenskap na.  Ons almal by Lefra gaan jou mis, maar deur jou spel gaan jy bly voortleef.  Ons sulueer jou!

  • DAA’ GAAT DIE BRUID word vir die laaste speelvak by die Atterbury Teater in Pretoria opgevoer van 24 – 29 Januarie 2016.  Ervare aktrise, Elma Potgieter, neem die rol van Daphne oor in DAA’ GAAT DIE BRUID vir die Atterbury Speelvak.

 

Frans Swart Kobus Burger Marga van Rooy Paul Luckhoff RSG Drama

Radiodrama vir RSG: Frans Swart, Kobus Burger, Marga van Rooy en Paul Luckhoff

 

Frans Swart Regisseur met Cast van DAA GAAT DIE BRUID

Regisseur Frans Swart met die rolverdeling van DAA’ GAAT DIE BRUID

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button