Local sportSport

SAJKA Karateklub groei ten spyte van Covid

Ondanks die pandemie wat die land se skole- en klubsport in ’n wurggreep het, het sensei Bernard Raubenheimer se SAJKA Karateklub in Heidelberg en Nigel groei getoon en meer as 20 nuwe lede bygekry.

Die pandemie het sy tol ge-eis op verskeie klubs wat moes toemaak. Raubenheimer het egter sy klub lewendig gehou en deur die grendeltyd aanlyn klasse aangebied.

“Met die uitbreek van die pandemie het ledetal met ongeveer 15% gedaal, maar die klubs is nou sterker as voor die uitbreek,” het Raubenheimer vertel.

Die klubs volg streng Covid-19 reëls en protokol en alhoewel die studente nog nie kontak karate mag beoefen nie, werk Raubenheimer en sy instrukteurs hard om die studente se tegniek vaardighede te verbeter.

Hy glo die groei van die klub kan toegeskryf word aan die beperkings op junior sport. Karate bied op die stadium goeie fisiese en psigiese oefening wat jong kinders nodig het in die moeilike tyd en help hulle om liggaamlik aktief te bly.

Die dojo’s het vanaf 9 tot 11 Mei hul eerste gradering vir die jaar gehou, waar 101 lede vanaf wit tot junior swart gordels gradeer het.

“Ek was trots op die hoë gehalte karate tydens die graderings,” het Raubenheimer gesê.

Voorts berei 19 lede ook voor vir hul onderskeie nasionale swart gordel graderings wat teen die einde van die jaar sal plaasvind. Raubenheimer beoog ook om wanneer daar na Japan gereis mag word vir sy sesde Dan-gradering te gaan.

Junior swartgordels by SAJKA Karateklub wat voorberei vir gradering die einde van die jaar.

Die Heidelberg dojo vier op 1 Julie sy 47ste bestaansjaar en vir die geleentheid sal sensei Johan la Grange, hoof instrukteur van SAJKA in Heidelberg, kom klas gee.

Indien Covid-19 regulasies en beperkings dit toelaat, word provinsiale kampioenskappe beplan vir die einde van die jaar. Raubenheimer glo dat sy studente gereed sal wees om ook daar te gaan presteer.

Hy nooi belangstellendes om gebruik te maak van sy spesiale aanbod van die eerste vier klasse wat gratis is.
Heidelberg SAJKA oefen Maandae tot Donderdae by Hoër Volkskool en die Nigel-klub Maandae en Woensdae in die saal van die Moedergemeente in Kerkstraat, Nigel.

Kinders vanaf die ouderdom van vier is welkom om aan te sluit.

Vir navrae kan Raubenheimer by 083 489 8231 geskakel word.

Related Articles

Back to top button