Local sportSportUpdate

Heidelberg Krieketklub hervat seisoen op hoë noot

Wessels, Pike en Raubenheimer lê wilgersteel in.

Heidelberg Krieketklub se eerstespan het die seisoen hervat en die nuwe jaar op ‘n hoë noot begin toe hulle op 5 Januarie ‘n wedstryd teen Alexandra Krieketklub met 149 lopies beklink het.

Nico Raubenheimer (kaptein) het besluit om eerste te kolf en Johan Wessels en Josh van Zyl het ‘n goeie vennootskap van 125 lopies aangeteken. Hierna het Wessels en Raubenheimer ‘n nuwe vennootskap opgebou en saam 76 lopies aangeteken.

Henro Pike het aan die einde van Heidelberg se beurt die steel behoorlik ingelê en 48 lopies (nie uit nie) van slegs 24 balle aangeteken. Heidelberg het 296 lopies in die toegelate 50 beurte aangeteken en slegs vier paaltjies verloor.

Die span se beste kolwers is Wessels met 82, Pike met 48 en Raubenheimer met 40 lopies.

 

Tydens Alexandra se kolfbeurt is Heidelberg se trio draaiboulers (Denico Visser, Wicardo Visser en Tiaan Potgieter) een te veel vir die opposisie en hulle word almal vir slegs149 lopies uitgeboul.

Na dié ronde spog Heidelberg met twee kolwers – Raubenheimer (derde) en Wessels (agtste) – op die top 10-ranglys van kolwers in die liga. Denico is tans tweede op die top 10-ranglys van beste boulers.

Bernard Raubenheimer (bestuurder) sê die span lê tans in algehele sesde posisie op die punteleer en sou eerste gestaan het as dit nie was dat die span die seisoen met 14 punte gepenaliseer was weens die transformasiebeleid van 2019 nie.

Heidelberg Krieketklub se Saterdagspan gaan op 18 en 19 Januarie hul seisoen voortsit en die juniors begin op 17 Januarie weer oefen. Belangstellendes en nuwe spelers is welkom om 083 489 8231 of 071 351 9213 vir meer besonderhede te skakel.

 

 

Related Articles

Back to top button