Local sportSport

Geen brieke vir spoedvraat

Fred van Zyl (76) het na die afsterwe van sy vrou vroeër vanjaar besluit om sy resiespak weer aan te trek en aan motorwedrenne deel te neem.

Fred van Zyl (76) het na die afsterwe van sy vrou vroeër vanjaar besluit om sy resiespak weer aan te trek en aan motorwedrenne deel te neem.

Fred het in 1982 aan sy heel eerste wedren deelgeneem te Middelburg waar hy derdeplek beklink het. Dit het ‘n vuur binne hom begin wat nie maklik geblus sal word nie. Fred het in dieselfde jaar nie weer ‘n wedren verloor nie en het teen die einde van die seisoen 11 van sy 12 wedrenne gewen.

In 1983 het Nissan hom die geleentheid gegee om in die eerste Castrol voorwielaangedrewe voertuig (VAV) resies deel te neem. Fred het nie tweekeer gedink nie en het die geleentheid aangegryp. Fred het uitstekend gevaar in dié toernooi en het met die finale resies met net twee punte voorgeloop.

Hy het dié afdeling ook gewen en was as die heel eerste Suid-Afrikaanse VAV (1600cc en onder) kampioen gekroon. Van Zyl het in 2003 afgetree, maar het 10 jaar later weer ‘n renmotor opgebou om aan die Cullinan Rally Sprint deel te neem. Hy het sonder remme steeds gewen met ‘n gemaklike vyf sekondes. Hierna het Fred weer besluit om sy pak op te hang en uit te tree uit die sport.

Vroeër vanjaar is Fred se vrou oorlede en het hy ter herdenking besluit om weer aan wedrenne deel te neem. Hy het op 16 November in die HMC Rally te Nigel weereens eersteplek beklink en het dié 76-jarige bewys dat ouderdom hom nie stadiger maak nie.

‘’Dit is iets wat ek nie kan beskryf nie, geld kan nie daardie gevoel koop nie. Dit is my lewe en hoe ek grootgeword het,” het hy vertel.

Van Zyl se pa, ook Fred, was in 1950 in die Springbok motorwedrengroep ingesluit en vloei dié sport definitief deur die Van Zyls se bloed.

Related Articles

Back to top button