Sport

Nigel seëvier op jaarlikse rugbydag

“Die spelers se gesindheid teenoor die klub dien as die belangrikste sleutel tot sukses,” Nigel Rugbyklub afrigter Hansie van Wyk.

Nigel Rugbyklub se jaarlikse rugbydag het weereens die gebruiklike opwinding vir die seisoen wat voorlê geskep en om die kersie op die koek te sit, het die gashere se rugby eerstespan hulle jaar met ‘n 39-12 oorwinning teen Oos Rand Polisie afgeskop.

Verskeie wedstryde is op 9 Maart by John Vorster Stadion en Hoërskool John Vorster se sportgronde gespeel en die dag het iets prettig vir jonk en oud gebied.

Nigel se tweedespan het die knie teen ‘n dapper Delmas met ‘n telling van 15-18 gebuig, maar vir alle betrokke spanne was hierdie ‘n uitstekende geleentheid om hul fiksheid asook kombinasies voor die liga op die proef te stel.

Also read -> Nigel Rugbyklub nooi spelers om deel van hul familie te word

Wanneer daar nie kliphard rugby gespeel was nie, kon die skare na die wonderklanke van gaskunstenaar Henri Alant luister. Daar is natuurlik heerlik vleisgebraai en die gasvryheid van Nigel Rubyklub was weer uit die boonste rakke.

Spanne van Heidelberg, Boksburg, Benoni, Witbank, Meyerton, Bethal, Edenvale asook Oos Rand Polisie het van die geleentheid gebruik gemaak om die roes van die afseisoen af te skud.

Die eerste kragmeting was ‘n riller tussen Boksburg Rugbyklub en ‘n uitnodigingspan wat die manne van Boksburg met 21-20 verloor het. Daarna het Heidelberg ‘n 21-10 oorwinning teen Bethal behaal.

Meyerton het die knie teen Benoni met ‘n telling van 5-75 gebuig terwyl Delmas teen Nigel se tweedespan met ‘n telling van 18-15 die pyp gerook het.

Tydens ‘n onderhoud met Hansie van Wyk, afrigter van Nigel Rugbyklub, het hy gesê dat hulle meer spanne tydens die rugbydag wou akkommodeer, maar dat tyd en beligting ‘n faktor was.

Volgens Van Wyk het sy span ‘n titel om te behou nadat hulle verlede jaar die Kestril liga gewen het en  hoewel die klub spelers aan ander klubs afgestaan het, het ander spelers weer na die klub teruggekeer en sien hulle daarna uit om weer die gemeenskap trots te maak. Van Wyk en sy spelers weet dat die klub op die gemeenskap se ondersteuning staatmaak en weens hulle uitstekende vertonings in 2018, hoop hulle om weer die nodige borge nader te trek. Indien Nigel se manne hul kroon wil behou, weet Van Wyk dat hulle die seisoen met die regte ingesteldheid moet aandurf.

Die breier se advies vir sy manne is dus eenvoudig: “Winners never quit, quitters never win.” Volgens Van Wyk kan die sukses van die klub aan hoë intensiteit oefeninge toegeskryf word. Dan het hy ook erken dat die klub tans ‘n groeifase ervaar aangesien daar baie jonger spelers aangesluit het.  “Die spelers se gesindheid teenoor die klub dien as die belangrikste sleutel tot sukses,” meen Van Wyk.

“Die toewyding van die spelers kan soms as ‘n struikelblok dien, aangesien sommige van die spelers nie vir wedstryde opdaag nie.”

Van Wyk het gesê hulle is besig om ‘n vroue rugbyspan op die been te bring en hulle mikpunt is om teen Januarie die span te akkommodeer.

Vroue wat daarin belangstel om deel van die span te wees, kan Van Wyk by 061 266 8297 skakel.

Also read -> Nuwe bestuur vir Nigel Rugbyklub

Intussen het Jaco van Rensburg, afrigter van Heidelberg Rugbyklub bevestig dat daar ‘n toename in spelergetalle by die klub vir die seisoen is. Van Rensburg meen dat die regte kombinasies tydens proewe gefinaliseer sal word en dat hulle baie positiewe aspekte uit hul kragmeting in Nigel sal neem.

“Solank as wat jy elke speler ‘n regverdige kans gun, kan die rugbyklub slegs na hoër hoogtes geneem word,” sê Van Rensburg.

Volgens mede-afrigter Neels Botes mag die belangrikheid van die vriendskaplike wedstryde waaraan die span deelneem, nie onderskat word nie.

“Die vriendskaplike wedstryde dien as boustene vir die liga,” het Botes gesê. “Dit is belangrik vir spelers om eers die wedstryde te geniet, aangesien die ligawedstryde slegs op die wentrofee fokus.”

Heidelberg se eerste ligawedstryd vind op 6 April by Hoërskool JW Luckhoff se velde teen Oos Rand Polisie plaas.

Vir meer inligting oor Heidelberg Rugbyklub, skakel 074 691 8158 of 083 611 2581

 

Follow us on:

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button