Local sportSport

Nigel Rugbyklub nooi spelers om deel van hul familie te word

Nigel Rugbyklub is gedurende 1892 gestig en is tans een van die oudste sportklubs in die dorp.

Nigel Rugbyklub het die seisoen op 16 Februarie met ‘n vriendskaplike wedstryd teen Delmas Rugbyklub afgeskop.

Die volgende vriendskaplike wedstryde vind op 23 Februarie by Springs Rugbyklub en op 2 Maart by Brakpan Rugbyklub plaas, waarna dit tyd is vir Nigel Rugbyklub se jaarlikse rugbydag wat op 9 Maart by John Vorster Stadion plaasvind. Die liga skop amptelik op 6 April af, maar intussen word alle spelers bo die ouderdom van 18 jaar genooi om aan te sluit.

Nigel Rugbyklub is gedurende 1892 gestig en is tans een van die oudste sportklubs in die dorp. Vir meer as 100 jaar het talle spelers hul staal op die veld gewys en die klub tot groot hoogtes geneem. Die klub het ook verskeie Valke-spelers met die jare opgelewer en in 2015 het altesaam 11 spelers die veld vir die Valke Plattelandspan opgedraf en die toernooi boonop gewen.

Om vir ses jaar agtereenvolgend in die finale kragmeting van die liga te speel, getuig ook van goeie kwaliteit afrigting en toewyding onder spelers. Alle afrigters by Nigel Rugbyklub het die vereiste Vlak 1 en Vlak 2 graderings geslaag en binnekort word spesiale programme wat ondermeer risiko-bepaling en fiksheidbeheer insluit, aan spelers en afrigters bekendgestel om dit later by weeklikse oefensessies in te werk.

Nigel Rugbyklub het gedurende die 2015/16 seisoen ‘n rekord opgestel toe hulle 36 agtereenvolgende wedstryde gewen het en in 2018 het die klub koning van die Merlin-liga gekraai toe beide die eerste- en tweedespanne die liga gewen het. Ondersteuners pak die pawiljoene ook elke naweek vol om hul steun aan die plaaslike klub te wys

Die bestuur sien as volg daar uit:

Cois Kruger (president)
Louis Bezuidenhout (voorsitter)
Kobie Snyman (vise-voorsitter)
Piet Celliers (tesourier)
Anita Celliers (sekretaresse)
Evert Jacobs (direkteur van afrigting)
Hansie van Wyk jnr (afrigter)
Cliff Botes (addisionele lid)
Hansie van Wyk snr (addisionele lid)

Belangstellende spelers kan vir Louis Bezuidenhout by 082 335 0853 of vir Anita Celliers by 082 409 3603 skakel.

 

Volg ons op:
Facebook Twitter

Related Articles

Back to top button