Sport

De Vries ontvang meriete toekenning vir sy bydrae oor 71 jaar tot posduif organisasie

Dié meriete toekenning is op 10 Maart 2018 in Bloemfontein uitgereik

HEIDELBERG – Tien de Vries wat sedert die stigting van die plaaslike posduifklub in 1948 daarby betrokke is, het onlangs ‘n besondere toekenning van die Suid-Afrikaanse Nasionale Posduif Organisasie ontvang.

Wat dit meer merkwaardig maak, is dat hy die toekenning op 90-jarige ouderdom ontvang het.

Dié meriete toekenning is op 10 Maart 2018 in Bloemfontein uitgereik en word toegeken vir onbaatsugtige diens en toewyding aan die administrasie en bevordering van wedvlugduifsport in Suid-Afrika. Deur die toekenning word erkenning verleen aan De Vries se voorbeeldige optrede in die naam van die organisasie teenoor mede-lede en ten opsigte van verwante aangeleenthede.

Volgens De Vries het hy reeds as kind ‘n groot liefde vir wedvlugduiwe ontwikkel en het hy met die verloop van jare ‘n aantal duiwe aangehou.

Gedurende 1948 het vier lede van Heidelberg ‘n posduifklub gestig, maar die Grondwet het destyds bepaal dat daar ‘n minimum van ses lede moet wees, wat hulle genoodsaak het om met Nigel Posduifklub te affilieer.

De Vries se duiwe het goed presteer, maar dit was veral een besondere duif wat in 1958 op die voorblad van die eerste uitgawe van die tydskrif ‘SA Racing Pigeon’ verskyn het.

“As eenjarige het die duif twee wedvlugte op die noordelike roete vanaf Bulawayo en Messina gewen, en as tweejarige het sy verskeie titels op die suidelike roete ingepalm. Sy het ook algehele agtsteplek in die unie behaal vir die Fraserburg Road wedvlug van 878 myl en 22 jaarts, teen ‘n spoed van 907,61 jaarts per minuut. As driejarige wen sy die Fraserburg Road derby en behaal daarmee saam eersteplek by die klub en die unie. Sy was ‘n merkwaardige duif,” het De Vries sy herinneringe gedeel.

Terwyl hy nou slegs lid van Heidelberg Posduifklub is, het hy vir etlike jare op die bestuur as voorsitter sowel as sekretaris gedien, maar weens werkverpligtinge het hy gedurende 1973 tydelik afgeskaal en later heeltemal opgegee.

“Wanneer die gogga jou eers gebyt het, is dit neusie verby en gedurende 2013 het ek weer met wedvlugduiwe begin broei en die stokperdjie opgeneem. Vanjaar is egter my laaste jaar, want hoewel ek elke oomblik daarvan geniet, begin die ouderdom my inhaal,” het De Vries gesê en vinnig bygevoeg dat hy onlangs twee duiwe Bloemfontein toe gestuur het vir deelname aan ‘n internasionale wedvlug wat gedurende die winter plaasvind.

Sy wedvlugduiwe word steeds daagliks uitgelaat om te oefen, maar De Vries sê hy is gereed om dié sport teen die einde van die jaar permanent vaarwel te roep.

Wedvlugduiwe is nie gewone tortelduiwe nie en verg spesiale aandag en sorg. Hul dieet word haarfyn gemonitor met ‘n kombinasie van ertjies, mielies, sonneblomsaad en sorghum. Om van medikasie nie te praat nie. De Vries het verduidelik dat duiwe maklik olik raak en ingeënt moet word teen siektes soos voëlgriep, Newcastle-siekte, kropkanker en pokke. Sommige wedvlugduiwe kry ook vitamien- en mineraalaanvullings en daarom is die sport van wedvlugduiwe nie goedkoop nie.

De Vries se wedvlugduiwe het die afgelope 71 jaar groot hoogtes bereik en hy sê dit is met gemengde emosies dat hy sy betrokkenheid by die Suid-Afrikaanse Nasionale Posduif Organisasie later vanjaar beëindig.

 

Follow us on:
Facebook Twitter

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button