Local sportSport

Nuwe sportklub nooi alle belangstellendes

NIGEL - Sowat drie maande gelede het sensei Jaun Naude die deure van ‘n nuwe sportklub vir die publiek oopgegooi en binne ‘n kort tydjie het die ledetal skopboksers tot 30 gegroei.

Nigel Kickboxing and Self Defence Club bied ‘n verskeidenheid klasse vir oud en jonk, maar Jaun (wat reeds 10 jaar se skop ondervinding onder die gordel het), sê hy werk daaraan om sy studente vir kompetisie op provinsiale sowel as nasionale vlak voor te berei. Jaun word deur shihan Louis Labuschagne bygestaan.
“Die belangrikste is dat hedendaagse skopboks ‘n goed gevestigde, veilige sport is. Elke sport het egter reëls nodig ten einde veilig uitgevoer te word en om kompetisie moontlik te maak,” het hy gesê.
Skopboks word deesdae onder verskeie reëls beoefen, waarvan die belangrikste as volg is: volle kontak – waarin skop bo die middel en alle bokstegnieke toegelaat word; skopboks – waarin alle skop bo die middel, alle bokstegnieke en skop teen die bene toegelaat word; en Thaiboks – waarin alle skop- of bokstegnieke, insluitend die gebruik van knieë en elmboë, toegelaat word.
Wat sensei Jaun en shihan Louis beoefen is die kategorie waar skop teen die bene toegelaat word, maar nie die gebruik van knieë of elmboë nie. Sowat 80 persent van die opleiding word gewy aan skopboks. Dit sluit opwarming, rekoefening, die oefen van skop en vuishoue, gevegte met halwe en volle kontak (met die gebruik van veiligheidstoerusting) en afkoeling in. Die ander 20 persent word gewy aan selfverdediging en die duo nooi alle belangstellende om by die klub aan te sluit. Dit is vir hulle veral belangrik dat slagoffers van boelies die selfverdedigingsklasse bywoon. “’n Mens is nooit te oud om selfverdediging te leer nie,’ het Jaun gesê.
Klasse vir ouderdomsgroepe vanaf vier jaar en ouer word Maandae en Woensdae van 18:00 tot 19:30 by The Italian Club aangebied.

Vir meer inligting, skakel Jaun by 073 722 4211.

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto. More »

Related Articles

Back to top button