LettersOpinion

Geniet ‘n geseënde feesseisoen na ‘n uitdagende jaar

2020 sal moontlik op verskeie vlakke as die mees buitengewone jaar ooit beskryf word.

Met Kersfees en nuwe jaar om die draai is dit die gulde geleentheid om te besin op die uitdagings asook die lesse wat die afgelope jaar gebring het.

In Februarie reik die Hooggeregshof ‘n in hegtenisnemingsbevel uit vir die voormalige President Jacob Zuma op aanklagte van korrupsie.

Die Covid-19-pandemie tref Suid-Afrika in Maart en President Cyril Ramaphosa kondig ‘n nasionale ramptoestand aan. Inperking van 21 dae van middernag 26 Maart tot 16 April, wat later verleng word tot einde April, word ingestel.

Die Covid-19-pandemie het die grootste ontwrigting in die internasionale sportkalender sedert die Tweede Wêreldoorlog veroorsaak en sportbyeenkomste word wêreldwyd gekanselleer of uitgestel. Die Olimpiese Somerspele 2020 in Tokio word herskeduleer na 2021.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens beplan om einde April al 4 700 werknemers af te dank nadat hulle nie meer staatsubsidies gekry het nie.

In Mei betree die land vlak vier van die nasionale inperking om te verseker dat die ekonomie geleidelik kan heropen met ‘n mate van versagting op beperkings.

Vrouemoord word in Junie as ‘n tweede pandemie beskryf aangesien meer as 20 vroue en kinders binne enkele weke vermoor word.

Covid-19 gevalle in Junie neem toe met 159 333 bevestigde gevalle en 2 749 sterftes.

Die inperkingregulasies verlaag na vlak drie en in Julie keer duisende leerders van Graad Sewe tot 12 terug na klasse nadat skole vir vier maande gesluit was weens die koronavirus. Bevestigde gevalle styg tot 408 052 met meer as 6 000 sterftes. Die aandklokreël van 9nm tot 4vm en ‘n verbod op die verkoop van alkohol word weer ingestel.

Gesins- en sosiale besoeke bly verbode.

In Augustus word die 139 jaar oue Greystraat-moskee in Durban deur ‘n brand verwoes. Later in Augustus verlaag die inperking na vlak twee.

Lede van die EFF dwing in September die sluiting van 60 Clicks winkels na aanleiding van ‘n advertensie wat as rassisties beskou was.

Op 21 September verlaag die inperking na vlak een.

In Oktober verloor boere in die Boshoff omgewing honderde stuks vee, wild, huise en minstens 200 000 hektaar grond in ‘n verwoestende brand en in Desember word Suid-Afrika aangewys as die land met die meeste Covid-19 gevalle in Afrika met 822 000 gevalle en 22 432 sterftes.

Na ‘n uitdagende jaar sien vele daarna uit om die feesseisoen in te gaan, om weer saam met familie en vriende te kuier en om die jaar af te sluit op ‘n beter noot as wat dit begin het.

‘n Nuwe jaar bring nuwe hoop en ‘n kans om te besin en dankbaar te wees vir die lesse van die verlede.

Dit is ook ‘n kans om ‘n nuwe begin te verwelkom en om met entoesiasme na doelwitte en drome te streef.
Afgesien van die uitdagings van 2020, het die jaar wel ‘n paar waardevolle lesse meegebring.

Families het meer tyd saam spandeer. In plaas daarvan om die heeltyd produktief te wees, is die mensdom tot stilstand geforseer om meer te rus.

Mense kon van hul huise af werk en virtuele vergaderings het duur korporatiewe geboue vervang. Daar was minder verkeer op die paaie en so het Suid-Afrika se koolstofvrystellings met ‘n kwart miljoen ton gedaal.

Die diereryk het vryliker begin rondbeweeg en dolfyne is nader aan die kuslyn opgemerk.

Die jaar het ook basiese higiëne beklemtoon asook om na jou eie gesondheid te kyk ‘n prioriteit is. Die feesseisoen kondig ‘n tydperk van gesellig wees en kuier saam familie en vriende aan. Die pandemie is egter steeds onder hande en verantwoordelikheid is nodig om jou eie, asook die mense om jou, se gesondheid te respekteer.

Gaan die feesseisoen in met ‘n daadwerklike bewustheid van die omgewing. Respekteer mense, diere en aarde en bly gefokus te midde van teëspoed.

Met die woorde van Eleanor Roosevelt: “The future belongs to those who believe in the beauty of their dreams” wens HERAUT sy lesers ‘n geseënde Kersfees en baie voorspoedige nuwe jaar.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button