BlogsOpinion

Afrikaans toe nie so groot nie

Bacchus Nel stel Heidelbergers aan sielvolle musiek bekend

So ‘n jaar of wat gelede het Bacchus Nel tydens ‘n optrede by die Ramstal in Nieu Bethesda bevestig dat musiek ‘n universele taal is.

Daar was meer as ‘n paar engelssprekendes in die gehoor. Van hulle kon bietjie Afrikaans praat, maar vir wêreldbekende krieketskrywer Telford Vice en sy vrou Fridose kon die show netsowel in Grieks gewees het.

Die paartjie gebruik slegs Afrikaans ter selfverdediging, tog was hulle voor in die tou toe Bacchus sy CDs na die tyd verkoop het.

Vir die volgende paar dae terwyl ons deur die Karoo gereis het, het Vice ‘n punt daarvan gemaak dat ons die album “Tweester Hotel” oor en oor luister.

Hoewel hy steeds nie die woorde verstaan het nie, het die ritme, instrumente en ander eerlike klanke die soutie van die Oos-Kaap in ‘n goeie bui gelaat. Ek wonder soms wat sy siening oor die taal en sy mense sou wees as hy die dieper boodskap wat so mooi in Bacchus se lirieke omskryf word onder die knie kon kry.

Vir Vice en sy vroutjie was die grootste verrassing beslis dat nie alle Afrikaanse musiek kommin is nie. Hulle was heel moontlik onder die indruk dat treffers soos Rooirok Bokkie en Baby Tjoklits ons kultuur opsom aangesien dit by feitlik elke T20 wedstryd by al die stadions regoor die land herhaaldelik uitbassuin word.

Die ervaring in die Karoo het behoorlik die oog/oorklappe laat afval. Hulle was genees van ‘n wanindruk wat deur hoofstroom radiostasies geskep en onderhou word. Hulle het dit terdeë geniet.


Vice het iets in die lyne van “I find it heartening that he doesn’t overuse the words ‘bokkie, rokkie, sokkie, and baby’ in his songs,” gesê en was spyt dat hy nie as jongmens aan die meer betekenisvolle genre bekendgestel is nie.
So het Bacchus een Vrydagaand in Heidelberg ‘n draai gemaak. Hy en Rynier Prins (lid van die band Georgetown) het in die Ou Tronk opgetree waar ‘n handjievol mense wat weet waaroor Bacchus se musiek gaan, saamgetrek het. Hy is mos deel van Die Wasgoedlyn wat op ons kassies uitgesaai word.

www.instagram.com/p/BXyOIl0FHlU/?taken-by=mickeymentz
Terugvoering van diegene wat vir die eerstekeer na die romantiese woorde en klanke van die blinde sanger geluister het, was vergelykbaar met dié van Vice en sy vrou – hoewel die tronkgehoor dalk meer waarde daaruit kon put aangesien geen taalgrense oorskrei is nie.
Die vraag nou wat Afrikaners hulself dalk moet afvra, is of daar mense is wat van internasionale gehalte/transenderende/universele Afrikaanse musiek hou?
Indien so, waar is hulle? En hoe kry mens hulle om na shows soos Bachhus s’n toe te kom?
My vriend Riku Lätti meen dat die rewolusie nog nie verby is nie en miskien is hierdie tipe vertonings iets wat konstant moet gebeur om mense wat maklik in patroonsmaak verval, ingelig te hou.
Kuns en/of musiek is mos iets wat aanhou groei en altyd sal vernuwe al is dit eeue oud.
Dit is my mening dat Afrikaanse musiek – en veral goeie, opregte Afrikaanse musiek – nog ‘n embrio is en dat almal wat die taal liefhet, dalk ‘n punt daarvan moet maak om nie die volgende Bacchus vertoning mis te loop nie.

 

 

 

Burger verloor “stage virginity” in Ou Tronk

 

 

https://www.instagram.com/p/BXvbXhRF5Y6/?taken-by=mickeymentz

 

Sowat ‘n jaar gelede het ek die voorreg gehad om saam met Die Wasgoedlyn Stefan Burger se huis op Dewetsdorp te besoek. Hy en sy gesin het ons soos eregaste ontvang en daardie aand het ons die heerlikste murgbene geëet.

Dalk was dit die Du Toitskloof Merlot wat gesels het, maar die optrede in die yskoue Vrystaat was uiteindelik ‘n groter hoogtepunt as Oppi Koppi.

So het Stefan na aanleiding van die vertoning besluit om sy eerste solo album (Die Rooipoort Gesange) op te neem. Hy het natuurlik die hulp van Riku en sy liewe vrou Jackie, asook Brain Cloete, ingespan om met die projek te help.

Die CDs is later gedruk en die sielkundige was gretig om sy kuns met ‘n gehoor te deel.

‘n Bol senuwees het in Heidelberg opgedaag. Hy het gelyk soos ‘n stut wat teen die All Blacks moes sak. Sy hande het gebewe, maar na die eerste minuut op die pragverhoog het hy sy voete gevind en die atmosfeer vir ‘n asemrowende Bacchus show help skep.

Dankie Stefan, jy is ‘n inspirasie en ons hoop jy maak gou weer ‘n draai in hierdie geweste.

*Groot dank ook aan Amy Vermeulen van Scent Flower Studios vir die decor, kerse en moeite. Vielies het ‘n slim vrou getrou!

www.facebook.com/scentflowerstudio/

Follow us on:

         

Facebook      Twitter

 

 

 

 

 

 

 

Related Articles

Back to top button