Eksamentyd – wenke wat werk!

NIGEL/HEIDELBERG - Die jaar lê byna op sy rug en meeste leerders landwyd het sedert verlede week die pen vir hul laaste eksamens gelig. Dit is 'n stresvolle tyd in enige persoon se lewe, maar die regte ingesteldheid en benadering tot die vraestel kan 'n groot verskil maak.

Hier volg ‘n paar wenke om te verseker jou eksamen verloop seepglad:

*Oefening

Oefening hou jou nie net gesond en fiks nie, dit bevorder ook jou breinfunksie deurdat die bloedsirkulasie na die brein asook die hart en die res van die liggaam verbeter. Oefening stimuleer ook die groei van senuweeselle in die deel van die brein wat met geheue te doen het, en het bykomende voordele soos tydelike stresafleiding. As jy om die blok stap, verbeter dit jou bloedsirkulasie. Sorg dus dat jy tyd buite die huis deel van jou studieplan maak.
*Eet en drink

Almal behoort die dag met ‘n gesonde ontbyt tegemoet te gaan. Ontbyt is kennelik die belangrikste maaltyd van die dag en ‘n heilsame ontbyt laat jou sommer goed wegspring. Bowendien bring dit vele gesondheidsvoordele mee, soos ‘n beter breinfunksie, hartgesondheid en gewigsbeheer. Morvite Instant Porridge is die ideale manier om jou dag mee te begin, want dis vullend, bekostigbaar en gerieflik.  Morvite hoef nie gekook te word nie, dus mors jy nie waardevolle studietyd in die kombuis nie. Dis ook baie belangrik om gehidreer te bly, veral in ons warm weer. Studente moet deur die dag baie water drink en nie net as hulle dors is nie.
*Slaap

Die meeste tieners het sowat agt en ‘n half tot nege uur slaap elke nag nodig. Dis noodsaaklik dat studente wat wil goed vaar in hul eksamens, die regte hoeveelheid slaap kry. Ten einde goed te slaap, moet studente gereelde slaapgewoontes hê, soos om op ‘m bepaalde tyd te gaan slaap, gereeld te oefen en stimulante soos drankies wat kaffeïen bevat, ná 16:00 te vermy. Hulle moet probeer om hul gedagtes rustig te maak voor hulle bed toe gaan, te ontspan en die lig te verdof. Hulle moet ook bedags nie te veel of te lank slaap nie en saans die regte slaapomgewing skep deur rustige musiek te speel of iets dergeliks.
*Tydbestuur

Een van die belangrikste aspekte van eksamenvoorbereiding is effektiewe tydbestuur. Dit werk die beste as jy ‘n studierooster opstel wat tyd vir studeer, maar ook vir vrye tyd insluit, soos om met jou maats te kuier, oefeninge te doen en jou stokperdjie uit te oefen. Dis belangrik dat jy by die rooster hou. Studente behoort ook gereelde slaap- en etenstye te hê, want afwykings van hul rooster kan voorwendsels wees om nie te studeer nie.
*Goeie ingesteldheid en ondersteuning

Positiewe gedagtes en ‘n goeie algemene instelling laat jou ook eksamenstres baasraak. Studente en leerders moet doelwitte stel en dan motiveer dit hulle om hulle te bereik. Studente neig ook om goed te doen en om gemakliker met eksamens te wees as hulle ‘n ondersteuningsgroep het. Dit is gewoonlik die gesin, maats en onderwysers wat weet hoe belangrik dit is om die studente in die stresvolle tyd te ondersteun.

Sterkte aan almal wat eksamen skryf!

 

Exit mobile version