Prontuit: Blomme het my gevind vertel Corli

Corli hou van ontwerpe en idees wat nie maklik in winkels te sien of te koop is nie en gebruik haar kreatiwiteit om die mooiste rangskikkings voor die dag te bring.

Die HERAUT het in die uitgawe van 4 Julie 2021 ‘n onderhoud met Corli Leonard gevoer, Blom waar jy geplant is, kort nadat sy een van die finaliste op die KykNET reeks Groenste Vingers was.

Sy het onlangs weer van haar laat hoor en gedeel hoe sy en haar besigheid gegroei het.

Sy het ook almal aangemoedig om Tuindag, wat op 20 Oktober plaasvind, te vier.

Leonard (38) is in Heidelberg gebore en het by Hoër Volkskool matrikuleer.

Sy het haar meestersgraad in bedryfsingenieurswese by Stellenbosch Universiteit behaal en na die tweede keer wat sy by haar werk afgelê was, het sy haar passie gevolg en die ingenieursbedryf geruil vir blomme.

Vandag is sy ‘n suksesvolle bloemiste in die Kaap en haar besigheid Veldmeisie maak groot opslae in die blomme rangskikking industrie.

“My lewe het heeltemal anders uitgedraai as wat ek my dit voorgestel het,” het Corli vertel.

Wanneer sy gevra word oor die ontstaan van Veldmeisie, sê sy net: “Dit was blomme wat my gevind het. Dit was ‘n moeilike tyd in my lewe nadat ek vir die tweede keer afgelê was, maar terugskouend was dit presies wat ek nodig gehad het.”

Corli het teruggekeer na haar familieplaas in Heidelberg om weer haar voete te vind en haar lewe in oënskou te neem.

Die natuur was ‘n konstante bron van inspirasie en omdat sy op ‘n plaas grootgeword het, het sy tuis gevoel in ‘n lewe wat in harmonie met die ritmes van die landskap was.

Met haar vermoë om probleme op te los en ‘n ingebore kreatiewe aanleg, het sy dit nie toe besef nie, maar die tydsberekening was perfek.

Dit was vroegsomer, die hoogtepunt van die trouseisoen, en die trou venue op die plaas was volbespreek.

“Ek het met blommerangskikkings vir die troues begin help en was onmiddellik betower.

“Die naam Veldmeisie was ‘n natuurlike uitvloeisel, en getuig van die plaaskind wat ure lank in die oop veld gestap en gespeel het. Ek het altyd so bietjie van die wildheid van die natuur gehou en nou vind dit neerslag in my werk,” het sy gesê.

Met die voordeel van ‘n plaas waar sy grasse, veldblomme en saadknoppe kan uitsnuffel, straal Corli se ontwerpe, oorspronklikheid en delikate skoonheid uit, en roep die wese van die veld op.

“Dit is vir my belangrik dat my ontwerpe uniek is en ek is dol daaroor om met materiaal te werk wat nie oor die algemeen in die winkels beskikbaar is nie,” het sy vertel.

Corli het onlangs blomme-werkwinkels by Veldmeisie se aanbieding gevoeg, geïnspireer deur haar reis met blomme.

“Toe ek my bloemiste besigheid begin het, was dit nuut, angswekkende en ‘n proses wat ek in daardie stadium net moes vertrou,” het sy gesê en bygevoeg dat hoe meer sy vertrou het, hoe meer selfversekerd en kreatief het haar werk geraak.

By haar blomme-werkwinkels gee sy kundige advies en deel haar kennis, maar die x-faktor is die aanmoediging om jou persoonlike styl te ontdek en te omarm. “Die oomblik as jy jouself vertrou, sal die res volg,” het Corli verduidelik.

Vir haar gaan Tuindag oor dankbaarheid en om jouself tyd te gun om jou tuin en die buitelug te geniet. Sy vier dit saam met bloemiste en ontwerpers, wat eens kollegas, maar nou goeie vriende is.

“Ons maak blomkrone en gebruik talle verskillende plante, vrugte, blomme en groente. Gebruik altyd wat jy byderhand het en moet nie vergeet om bietjie te speel nie,” het sy afgesluit.

Exit mobile version