Groot pryse te wen tydens makietie vir Dorp van die Jaar

Van 'n midnaweek na enige ATKV oord tot 'n MSC bootreis is van die pryse wat gewen kan word in verskeie kompetisies tydens die Heidelberg Kwêla dorp van die jaar makietie wat op 1 en 2 November plaasvind.

Met die viering van die Dorp van die Jaar om die draai woeker die Heidelberg Hoop span met die organisering om te sorg dat die makietie een vir die boeke sal wees.

Die makietie sal by die Unie sportvelde op 1 en 2 November plaasvind.

Behalwe vir van Suid-Afrika se top sangers ek akteurs wat sal deel maak van die viering, beloof die makietie om groot pret te wees, met oor die 300 stalletjies. Boonop is daar groot pryse te wen vir verskeie kompetisies en fondsinsameling projekte.

Op 1 November sal die Rommelrevolusie Modevertoning plaasvind.

Laer- en hoërskool leerders kan inskryf en moet uitrustings dra wat uit enige herwinbare rommel gemaak is.

“Een van die fokuspunte van die Heidelberg Hoop organisasie is herwinning, en die modevertoning dra by tot die opvoeding van kinders oor herwinbare materiaal en die belangrikheid van herwinning om ons dorp skoon te hou,” het Sandra Taljaard, wat deel is van die organiseringspan vertel.

Die Rommelrevolusie wenner sal ‘n midweek vakansie by enige van die ATKV oorde wen asook ‘n vliegkaartjie van Suretravel vir enige binnelandse vlug.

Op 2 November kan vroue en mans hul gemaklike skoene verruil vir hoë hakskoene van nie minder as 5cm hoog nie en deelneem aan die Pink Hope Derby.

Die Derby is ‘n 75m stap-draf ter ondersteuning van Helpende Hand se Help Hetta en Help Hendrik projekte.

“Dit is ‘n prettige geleentheid waar vriende, familie en plaaslike besighede uitgedaag kan word om teen mekaar deel te neem.

“So kan hul Helpende Hand se projekte ondersteun en ook groot pryse vir hulself loshardloop,” het Taljaard gesê.

Die inskrywing vir die kompetisie is sanitêre produkte en kan op 2 November ingehandig word.

Die Pink Derby wenner se prys is ‘n MSC Bootreis en vir dié wat kort op die wenner se hakke was, is daar tweede en derde plek pryse in die vorm van geskenkpakke deur Suretravel.

Mej Hope sal ook Saterdag aangewys word. Die kompetisie is vir dames tussen 16 en 24.

“Ons het reeds ‘n paar inskrywings ontvang en moedig almal aan om in te skryf,” het Taljaard gesê.

Mej Hope sal R5 000 in kontant wen, ‘n klerekas beplanning deur Style Challenge International, drie maande se naelsorg deur Nails by Simoné en agt weke se haarsorg by Glam Hair.

Mej Hope sal as ‘n jaarlikse inisiatief ingestel word en vanaf volgende jaar sal daar ook geleentheid wees vir die mans om vir Mnr Hope in te skryf.

Sangers wat Vrydag sal optree is Bobby van Jaarsveld, Zaan Sonnekus en Francois van Coke.

Saterdag kan besoekers uitsien na Touch of Class, Eloff, Pieter Koen en Jo Black en ook ‘n geleentheid kry om van kykNET se akteurs te ontmoet.

Vir die manne (of vroue) wat lief is vir kaasburgers is daar Saterdag Die Groot Kwagga-Berg Burger eet kompetisie. Deelnemers sal 20 minute hê om ‘n 1.4kg burger en 500ml bier klaar te maak.

Alle kompetisies is reeds oop vir inskrywings. Volg Heidelberg Hoop se webtuiste of Facebookblad vir die skakels na elke kompetisie.

Die Heidelberg Kwêla Makietie kaartjies is te koop by Webtickets of by die hekke.

Koste beloop R140 per dag vir volwassenes of R250 vir ‘n naweek kaartjie. Kinders tussen ses en 12 jaar is R80 per dag of R140 vir ‘n naweek kaartjie.

Die Heidelberg Kwêla Makietie kaartjies is te koop en inskrywings vir alle kompetisies op 1 en 2 November is reeds oop.
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version