Talentvolle speler gekies vir Spanje sewes toer

Tristan is gekies vir die AVS Sewes o16 Presidentspan wat vanaf 1 tot 10 Desember op toer na Spanje toe gaan en het ondersteuning nodig om sy droom te verwesenlik.

Tristan Janse, ’n Graad 10 leerder aan die Hoërskool John Vorster is gedurende die Bokkieweek toernooi vir die o16 AVS Sewes Presidentspan verkies wat vanaf 1 tot 10 Desember na Spanje sal reis.

Tristan speel rugby vandat hy sy laerskool loopbaan begin het maar sedert hy by Hoërskool John Vorster is, het sy prestasies op die rugbyveld begin uitstaan.

In 2022 was hy deel van die o14 Valke span. In 2023 was hy deel van die Rhino Sewes en Jaru Sewes en het ook vroeër die jaar die Bokkie Somer Week behaal.

Tristan is ‘n veelsydige speler en wissel tussen senter, vleuel en heelagter. Vir sy afrigters was dit geen verrassing dat hy gekies is vir die AVS Sewes span vir die Spanje toer nie.

“Tristan is ‘n uitstekende rugbyspeler en het hierdie jaar uitgeblink as voor- en agterspeler,” het Werner Strydom (hoof afrigter) vertel.

“Dit het my nie verbaas dat hy so goed doen as sewes speler nie. “

“Hy is baie vlugvoetig met die bal in die hand en word baie selde geklop wanneer hy verdedig. Ons is trots op hom met sy besondere prestasie,” het Strydom bygevoeg.

Die jong talentvolle speler het groot drome om eendag vir die Blou Bulle en die Springbokke uit te draf.
Sy rugby ikoon is Kurt-Lee Arendse wat sy rugbyloopbaan in die sewes rugby begin het en in 2022 sy debuut vir die Springbokke gemaak het.

Volgens sy afrigter is Tristan ‘n veelsydige speler met baie talent.

Tristan se nommer een ondersteuner is natuurlik sy ma, Veronique en sy vertel dit is moeilik vir haar om te sien as hy seerkry op die veld. Sy probeer ook elke wedstryd bywoon en skree die hardste langs die veld.

“Ek bid elke keer as hy op die veld uitdraf vir sy beskerming en is dankbaar as hy veilig af kom. Dit is vir hom ‘n passie en die Here het hom met die talent geseën en ek sal hom so ver moontlik bystaan,” het Veronique vertel.

Die toer na Spanje verg nie net talent nie maar ook finansiële ondersteuning en as sy nommer een ondersteuner wil Veronique alles in haar vermoë doen om dit vir Tristan moontlik te maak.

Sy het hom dus geregistreer by BackaBuddy om fondse in te samel.

“Ek reik uit om ‘n opwindende geleentheid vir hom te bied en hom te ondersteun op sy reis. Deur Tristan te borg, belê jy nie net in die groei van ‘n talentvolle atleet nie, maar kry jy ook sigbaarheid in ‘n sport met ‘n passievolle en lojale aanhangers basis,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg enige een se ondersteuning sal vir Tristan help om sy droom te verwesenlik om internasionaal mee te ding en die plaaslike gemeenskap van Nigel op ‘n globale verhoog te verteenwoordig.

Die wat Tristan wil help kan Veronique by 061 866 0744 kontak of die BackaBuddy webtuiste by www.backabuddy.co.za besoek.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version