Local news

Gemeenskap groet eerbare steunpilaar

Hy het ‘n versameling van 3 500 boeke gehad en ook al sy eie boek gebupliseer. Sy toneelstuk ‘n Vrou vir neef Piet, is iets waarop hy baie trots was en wat menigte sal onthou.

Francois Furstenburg is op 26 September op die ouderdom van 88 oorlede nadat hy sy stryd teen kanker verloor het.

Hy is kort voor sy dood by die Suikerbos Aftreeoord opgeneem waar hy versorg was.

Furstenburg is bekend as Oom Francois en was sedert 2012 betrokke by die ATKV Heidelberg-tak waar hy ook gedien het as voorsitter tot voor sy dood.

Hy sal onthou word as die hartsmens wat altyd ‘n geselsie sal aanknoop as hy in die dorp ‘n bekende raakgeloop het.

Hy het in 1983 met Anelia getrou en die paartjie het vanjaar hul 41ste huweliksherdenking gevier.

Hy was ook ‘n bekwame rolbalspeler en het tot kort voor sy siekbed twee keer per week gespeel.

Tussen Francois en Anelia het hulle ses kinders, 13 kleinkinders en sewe agterkleinkinders.

Anelia beskryf hom as ‘n Godvresende man. Sy geloof was vir hom sy hoof prioriteit wat hy daagliks uitgeleef het.

“Hy was altyd positief, vrygewig en het baie vir liefdadigheid gedoen,” het Anelia vertel.

Sy versameling van 3 500 boeke, duisende klassieke musiek langspeel plate, kompakskywe en digitale videos was bewys van sy liefde vir sy taal en musiek maar hy het ook ‘n ander groot liefde gehad en dit was roomys en melkskommels.

Francois was ‘n hardwerkende man en het op 88 steeds aan die stuur van die ATKV Heidelberg-tak as voorsitter gedien.

Hy het oor die jare meer as 600 gedigte geskryf asook stalle verhale. Sy toneelstuk ‘n Vrou vir neef Piet, is iets wat menigte sal onthou en waarop hy baie trots was.

Hy laat ‘n leemte nie net in sy familie nie maar ook in die gemeenskap en die ATKV.

“Dit is met hartseer dat ons afskeid neem van oom Francois, wie se nalatenskap as voorsitter van die ATKV en geliefde gemeenskapsleier diep spore laat,” het Sandra Taljaard gesê.

“In die paar maande wat ek die voorreg gehad het om saam met hom te werk, het ek sy integriteit, passie en onwrikbare etiese standaarde eerstehands gesien.

“Hy het nie net vir die mense gewerk nie, maar saam met hulle – altyd met ’n warm hart en ’n nederige gees.
“Sy bydrae tot ons gemeenskap sal lank onthou word, en ons gedagtes is by sy familie en geliefdes in hierdie tyd,” het Taljaard bygevoeg.

Francois was ‘n pilaar van ondersteuning vir sy familie en ‘n inspirasie vir almal wat hom geken het.

Sy onbaatsugtige diens en liefde vir sy gemeenskap het ‘n blywende indruk gelaat, en hy sal onthou word as ‘n eerbare eggenoot, pa, oupa, oupagrootjie en gemeenskapslid wat ‘n verskil gemaak het in baie se lewens.

Sy gedenkdiens het Vrydag 4 Oktober vanuit die Klipkerk plaasgevind.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button