Prontuit: Geestelike vervulling is Ina se motivering by SAVF

Die SAVF Nigel help tans 13 gesinne en 11 enkel lopendes met weeklikse kospakkies.

Die HERAUT leer die gemeenskap ken en het hierdie week met Ina Els gesels.

Ina (39) is sedert 2013 betrokke by die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) in Nigel.

Die SAVF is ‘n nie-winsgewende gesinsorgdiens met die hoofdoel om maatskaplike diens en kospakkies te verskaf in die gemeenskap wat hulle dien.

Ina het in Standerton grootgeword maar woon vir die afgelope 15 jaar in Heidelberg nadat sy met haar man Johan getroud is. Hulle het twee kinders Stian (12) en Lia (9).

Alhoewel Ina ‘n gekwalifiseerde onderwyseres, op die bestuurspan van Overkruin en ondervoorsitter van die SAVF is, is sy hoofsaaklik ‘n ma.

Sy het 11 jaar gelede besluit om by die SAVF aan te sluit nadat sy te hore gekom het dat die organisasie vrywilligers nodig het.

Vir Ina gaan dit oor dankbaarheid vir waarmee sy geseën is en as jy dankbaar is, gee jy terug.

“Dit is hartseer om te sien hoe baie mense behoeftig is en werklik sukkel. As ‘n lid van die gemeenskap is dit noodsaaklik om mekaar te help waar ons kan want elke bietjie help,” het Ina vertel en ook haar dankbaarheid uitgespreek teenoor elke vrywilliger wat hul tyd opoffer om die SAVF te help.

Die SAVF Nigel sorg tans vir 11 enkel lopendes en 13 gesinne wat elke week kospakkies ontvang.

Ina moedig elkeen in die gemeenskap aan om te help, betrokke te raak of selfs net skenkings te gee.

Die skenkings van klere word uitgedeel en van dit word verkoop. Daar is altyd ‘n behoefte aan kinderklere van enige ouderdom.

Ina is gevra om een van die gevalle, wat haar die meeste bybly, te deel. Sy het die verhaal van tweeling broers gedeel.

Die een het hartprobleme gehad en die ander was verstandelik gestrem.

“Dit was hartroerend om te sien hoe die twee mekaar bystaan en ondersteun in alles. Die een was nooit sonder die ander een nie en hul samesyn was een van die dinge wat vir hulle groot vreugde selfs deur die slegte tye gebring het,” het Ina vertel.

Sy het uitgebrei oor die omstandighede van diegene wat deur SAVF gehelp word.

“Dit is ‘n bose kringloop. Meeste het nie skool klaar gemaak nie en volg maar die pad in die ouers se skoene. Daar is nie vir hulle ‘n rolmodel nie,” het sy vertel.

Vir Ina is dit ‘n geestelike vervulling wat sy ervaar wanneer sy haar tyd opgee om die minder bevoorregtes te help en motiveer.

“Almal het nie altyd die vermoë om geldelik ‘n bydra te maak nie, maar almal het tyd. ‘n Mens se eie tyd is kosbaar en soms maak dit die grootste verskil in ander se lewens,” het sy gesê en genoem dat die SAVF Nigel se sukses toegeskryf kan word aan die onbaatsugtige vrywilligers wat elkeen hul unieke talent en vaardighede inspan.

Ina se boodskap aan elkeen wat swaarkry is: “Hou moed. Glo in die goeie van die lewe, onthou dat daar mense is wat omgee en weet dat die Here altyd sal voorsien.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version