Local news

Tiener laat besondere gedig uit haar pen vloei

Bianka gee haar woorde vlerke en vind aanklank by baie tieners wat soms 'n wegbreek van sosiale media nodig het om net weer tiener te wees.

Laat my toe om tiener te wees is die woorde wat Bianka Pieterse met haar digterspen en selfvertoue-stem vir haar die wenplek tydens die Suikerbosrand Eisteddfod besorg het.

Bianka Pieterse (16) is ‘n Graad Tien leerder aan die Hoër Volkskool met ‘n natuurlike aanvoeling vir drama.

Sy klim maklik in ‘n karakter se skoene in, hetsy op die verhoog of op papier en wen met haar gedig Tiener wees in die skryfkuns – en poësie afdeling (Grade 10 tot 12) tydens die Suikerbosrand Eisteddfod in Augustus.

Sy is ook deel van Applous spraak- en dramaskool.

Applous is ‘n dramaskool wat deur Lericia Janse van Rensburg in 2023 in Heidelberg oopgemaak is.

Bianka het in 2023 by Applous aangesluit en is al die afgelope twee jaar betrokke by die plaaslike eisteddfods.
Sy was ook deel van Applous se toneel produksie in 2023 waar sy die hoofrol gespeel het.

Bianka se gedig oor die invloed van sosiale media op tieners het vir haar as wenner laat triomfeer.

“Ek glo die beoordelaars het die oorspronklikheid en egtheid van haar gedig geniet. Die feit dat haar gedig ook aanklank by enige tiener kan vind, het dit ook laat uitstaan,” het Janse van Rensburg vertel.

‘ Eisteddfod is ‘n geleentheid om kinders se talente te help ontgin en om selfversekerde leerders te kweek. Applous help leerders om buite die boks te begin dink en rus leerders toe met selfvertroue om eendag in die samelewing te kan gebruik.

“Dit is ‘n vaardigheid wat niemand van jou kan wegneem nie. Jou woorde het krag en hoe jy jouself dra spreek boekdele,” het Janse van Rensburg vertel en bygevoeg dat dit nie jou CV is wat gaan maak dat jy eendag werk gaan kry nie, maar hoe jy jouself in ‘n onderhoud handhaaf.

“By Applous gooi ons stereotipe boksies weg en moedig oorspronklikheid en selfversekerdheid aan,” het sy gesê. Sy het genoem dat sy ‘n groot liefde vir skryf het en skryf elke jaar talle toesprake en oorspronklike stukke vir die eisteddfod. Sy voel dit is belangrik vir leerders om ook met die nodige vaardighede toegerus te word om goed te kan skryf en hulself te kan uitdruk. Dit is hoekom Applous jaarliks ‘n skryfskool aanbied.

Dit is juis tydens dié skryfskool waar Bianka die nodige kennis opgedoen het en leiding ontvang het om haar woorde vlerke te gee.

Bianka se gedig wat vir haar ‘n wenplek besorg het:

Tiener wees – Deur Bianka Pieterse

Gee my ‘n kans om tiener te wees

sonder warries en vrees.

Om my nommer ses skoen vol te staan

sonder om te warrie wat op sosiale media aan gaan.

Julle sit agter ‘n slimfoon

en is vas gevang in iemand anders se droom.

Met elke boodskap neem julle my kindwees weg

dis tyd dat ek vir tiener wees terug veg.

Julle breek my af wanneer ek dit die minste verwag

terwyl julle agter my rug sit en lag.

Ek is klaar met emosies en vrees

gee my net ‘n kans om tiener te wees.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button