Local newsSport

Sussies se passie vir ballet is onstuitbaar

Albei sussies het tydens die Show Your Talent SA kompetisie die hoogste prestasie behaal en gekwalifiseer om deel te wees van die Suid-Afrikaanse span wat by Talent America in New York in 2025 sal kompeteer.

Twee sussies, wat beide ballerinas is, het onlangs top prestasies by Show Your Talent SA behaal en sal volgende jaar in New York kompeteer.

Die Hoër Volkskool leerders, Lauriska Els (17) in Graad 11 en haar sussie Anneke (15) in Graad 9 het albei tydens die onlangse Show Your Talent SA kompetisie ‘ultimate gold’ toekennings ontvang vir kontemporêre – en volksdans en sodoende gekwalifiseer vir Suid-Afrikaanse kleure en hul plek om in New York te gaan deelneem.

Dié twee sussies het albei op vierjarige ouderdom begin dans by die Flow Dance Studio in Heidelberg.

Volgens hul ma Liesl, het Lauriska vandat sy kon loop op haar tone geloop en soos ‘n ballerina gelyk.

Sy is ingeskryf by die dansskool en Anneke het kort op haar sussie se hakke gevolg.

In elkeen se Graad Een jaar het hulle aan eisteddfods begin deelneem en tegnieke en vaardighede ontwikkel wat vir beide hoë prestasies besorg het.

Lauriska en Anneke Els kompeteer saam van kleins af maar vir hulle is dit ‘n gedeelde passie wat hul oor die jare gemotiveer het om top prestasies te bereik.

“Dans is my passie. Dit gee my die vryheid om my gevoelens uit te druk en in die oomblik te leef. Alhoewel dit soms moeilik is om met my sussie te kompeteer, sien ek dit as ‘n geleentheid om te groei en te leer,” het Lauriska vertel.

“Haar teenwoordigheid inspireer my om my beste te gee, en ons deel ‘n gesonde en ondersteunende kompetisie.
“My liefde vir dans strek verder as eenvoudige kompetisie, dit is iets wat ek diep binne voel en elke oomblik op die dansvloer geniet,” het Lauriska bygevoeg.

Om hul eie insette te kan lewer wanneer danse gechoreografeer word en om die musiek en uitrustings te kies is van die redes hoekom dans so spesiaal is vir hulle.

“Dans verg dissipline maar daar is ook ‘n mate van vryheid en verskillende genres, en dit maak dit vir albei interessant,” het Anneke gesê.

Volkie sussies Lauriska en Anneke Els dans albei vanaf vierjarige ouderdom. Hulle is leerders aan die Hoër Volksool..

“Vir my is dans meer as ‘n aktiwiteit. Dit is ‘n manier om my hart en siel uit te druk.

“Ek geniet elke oomblik op die dansvloer waar ek uiting kan gee aan my kreatiwiteit.

“Om saam met my sussie aan kompetisies deel te neem is ‘n uitdaging, maar dit motiveer my om te verbeter, ek kyk op na haar. Ons druk mekaar om harder te werk,” het Anneke gesê

Vir Liesl en pa Ettiene was dit ‘n emosionele oomblik toe die uitslae bekendgemaak is dat albei hul dogters gekies is om Suid-Afrika te gaan verteenwoordig.

“Na soveel jare se harde werk verdien albei dit beslis. Ons is uiters trots op hulle en dankbaar vir hulle talent, mooi harte en gesindheid wat hulle elke dag uitleef,” het Liesl vertel.

Die ballerina sussies sal in 2025 deel wees van die Suid-Afrikaanse span wat by Talent America in New York sal kompeteer.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button