Nigel eerstes wen die Merlin Liga

Nigel se eerste span het die beker huis toe gebring maar die tweedes het vasgeval.

Nigel Rugbyklub se eerste span is die Merlin Liga kampioene.

Die span het Saterdag in die finale van die Valke se Merlin Liga teen Benoni Northerns te staan gekom en die wedstryd in hul guns beklink.

Die wedstryde was op die Barnard Stadion in Kempton Park gespeel en Nigel het met 41-22 gewen.

Benoni het met die aanvang van die wedstryd die meeste aanvalswerk gedoen en dit het gelyk of hulle die bordjies wil verhang en Nigel vir ‘n eerste keer die seisoen klop.

Benoni het geboer op Nigel se kwartlyn en het ‘n strafskop afgedwing. Die strafskop was suksesvol in punte omgeskep.

Nigel het daarna die wedstryd oorgeneem en van alle plekke op die veld aangeval.

In die eerste helfte het Nigel drie drieë gedruk, twee doelskoppe asook een strafdoel aangeteken.

Benoni het in die doodsnikke van die eerste helfte eers weer punte aangeteken met ‘n drie en doelskop.

Die halftyd telling was Nigel 22–Benoni 10.

In die tweede helfte het Nigel voortgebou op die eerste ronde se momentum en het nog ‘n verdere drie drieë gedruk en twee doelskoppe oorgeskop.

Met die puntestand verskil wat gegroei het na 31 punte het Nigel teen die einde effe konsentrasie verloor, wat vir hulle twee geelkaarte op die hals gebring het en toegelaat dat Benoni twee drieë gedruk het en een doelskop oor geskop het.

Nigel se punte is as volg aangeteken: Drieë: Odwa Gcobo (1), Keanan Mouton (1), Steven Kok (1), Griag Pienaar (1), Rhys Thompson (2). Doelskoppe: Lincoln Baaitjies (3) en Juandre van Dyk (1). Strafdoel: Lincoln Baadjies (1).

Nigel se tweedes het teen Benoni se tweede span in hulle finaal vasgeval met ‘n eindtelling van Benoni 22 – Nigel 8.

Benoni se tweedes het van meet af die spel gedikteer en het Nigel gedwing om meeste van die tyd te verdedig met min geleentheid om aan te val.

Benoni se tweede span het die hele seisoen gedomineer en al die spanne laat les opsê.

Benoni het drie drieë gedruk, twee doelskoppe en een strafdoel in punte omskep terwyl Nigel een drie en een strafdoel aangeteken het.

Nigel se punte was ‘n drie deur Henry van Biljon en strafdoel deur Handerik Deyzel.

Nigel Rugby Klub het hul getroue ondersteuners bedank vir hulle ondersteuning deur die 2024 seisoen.

Exit mobile version