Local news

Heidelberg Drukkers vier 40ste verjaarsdag

“In die 40 jaar van Heidelberg Drukkers se bestaan, het ek die dorp sien verander."

Die Engelse filosoof Francis Bacon het in 1620 geskryf dat die drie uitvindings wat die wêreld vir altyd verander het, kruit, die nautiese kompas en die drukpers was.

Stoffel du Plooy (68) van Heidelberg Drukkers het 40 jaar gelede besluit om hom tot die drukpers te wend en het Heidelberg Drukkers begin.

Stoffel du Plooy wys sy hand waarvan hy ‘n vinger lid verloor het in ‘n drukmasjien.

Du Plooy wat na skool en weermagdiens gekwalifiseer het as radio en instrument tegnikus draai nie een dag terug op sy besluit nie.

Heidelberg Drukkers in Ueckermannstraat 44, spog met kliënte van reg oor die land, waarvan sommige vir die afgelope 38 jaar lank al lojale kliënte is.

HERAUT het by Heidelberg Drukkers aanklop en Du Plooy het staaltjies gedeel van hoe die drukkery oor die afgelope 40 jaar verander het.

Elias Molefe wys hoe die masjien met draadkrammetjies gebruik word om boeke te bind.

“Litografie was die drukmetode wat gebruik was voordat tegnologie die lewe vergemaklik het,” het Du Plooy vertel.

Hy het verduidelik dat fisiese foto’s geneem moes word en ontwikkel was in ‘n donkerkamer om teks of beelde op papier of ander geskikte materiaal te druk.

Hy het vroeg in die bestaan van Heidelberg Drukkers dié metode gebruik om toonbank of faktuurboeke te druk. Vandag doen hy dit vinnig en maklik vir sy kliënte.

Du Plooy was skaars drie jaar in die drukkers bedryf toe hy deur een van die masjiene ‘n lid van een van sy vingers verloor het.

Hy vertel hy het wasbare papier ingevoer om etikette wat aan linne gewerk word te druk. Die drukproses daardie tyd was ‘n dubbele proses. Die etiket moes twee keer deur die drukker gaan voordat dit perfek gedruk was. Die masjien het ook baie lank gevat om opgewarm te word voordat dit behoorlik gewerk het.

Een van die oudste drukmasjiene by Heidelberg Drukkers wat Stoffel du Plooy steeds bewaar.

“Ek het die papier deur die eerste proses gedruk en met die tweede proses het my vinger lid tussen die rollers gekom en die hele lid was afgesny.

“Dit was boonop Paasnaweek en ek moes met ‘n bebloede af-vinger vir ure by die hospitaal wag vir mediese behandeling,” het Du Plooy vertel.

Hy het ook vertel van die 2002 verkiesing toe Heidelberg Drukkers die plakkate van die ANC moes druk.

“Ons moes letterlik tot die laaste nippertjie wag totdat die regte persone wat verkiesbaar was, deurgegee word voordat ons kon voortgaan met die druk van plakkate. Ons het ‘n week gehad om dit te doen.

“Die masjiene het vanaf die Sondagaand tot die volgende week Vrydagaand aaneen gewerk.”

Heidelberg Drukkers het ook op ‘n tyd Balfour Herold en die Frankfort Koerant gedruk en spog ook dat hul een van die grootste wasserye, Boston Dry Cleaners, se toonbankboeke van 1 200 boeke met 300 bladsye elk tot vandag toe nog druk.

Die span by Heidelberg Drukkers. Liesbet Mngevu wat in die middel staan werk al 38 jaar by die drukkers.

“In die 40 jaar van Heidelberg Drukkers se bestaan, het ek die dorp sien verander. Ek het gesien hoe tegnologie gevorder het, maar daar sal altyd ‘n behoefte wees vir drukkers,” het Du Plooy vertel.

Hy en sy vrou Dina is vir agt jaar getroud en werk saam.

Dina het drie kinders en vier kleinkinders. Stoffel het vier kinders waarvan die oudste oorlede is en hy het twee kleinkinders.

“Ons geniet die dorp en die omgewing. Heidelberg is naby berge maar steeds nie ver van die dorp af nie,” het hy gesê. Hy het bygevoeg dat as hulle vir die Desember vakansie sluit, dit dan tyd is om te gaan kuier by familie.

Met Heidelberg Drukkers se 40ste verjaarsdag nooi hy almal uit om by hulle te kom inloer en die nostalgie van die drukpers te beleef – van die ou dae tot moderne tegnologie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button