Glorie van Heidelberg op pad na herstel

"Ons beoog om dit weer sportgronde te maak waar die gemeenskap met trots en gemoedsrus kan rolbal, muurbal, tennis, hokkie, krieket en rugby speel en kyk."

Die Heidelberg Hoop span werk steeds onverpoos om die dorp reg te ruk sedert Heidelberg op 28 Julie as Kwêla se Dorp van die Jaar aangekondig is.

Die prysgeld van R1m wat deur Lottoland geskenk word sal gebruik word om die Unieveld Sportgronde te herstel.

Die geld sal aan Heidelberg Hoop oorbetaal word nadat ‘n projekplan en begroting ingedien is en sal dan geoudit word deur ouditeure wat deur Lottoland aangestel is om te verseker dat die fondse korrek gebruik word.

“Met die wengeld wil ons die Unieveld Sportgronde en verskillende velde in ‘n bruikbare toestand te kry, die krag herstel, beligting aanbring, sekuriteit opgradeer en die heining regmaak,” het Nicolene Neveling, woordvoerder van Heidelberg Hoop gesê.

Die Unieveld Sportgronde se heining is top prioriteit om herstel te word.

Die Heidelberg Hoop span het reeds begin met opgraderings aan die Unievelde, maar dit halt nie die gebruik van die velde nie want daar word steeds daagliks hokkie, krieket tennis of rolbal gespeel.

“Daar is nog baie werk om te doen maar die heining is ‘n groot prioriteit. Dit help nie ons verbeter en herstel maar die voete kom steeds in om te steel nie.

“Ons beoog om dit weer sportgronde te maak waar die gemeenskap met trots en gemoedsrus kan rolbal, muurbal, tennis, hokkie, krieket en rugby speel en kyk ,” het Neveling gesê.

Sy het ook die gemeenskap aanmoedig om by Heidelberg Hoop betrokke te raak.

“Hoe meer mense betrokke is hoe meer mense word bewus van die probleme wat die dorp in die gesig staar,” het sy gesê.

Deur die Heidelberg Hoop inisiatiewe is daar staaldromme oral geplaas om die rommelprobleem uit te skakel;

Die Heidelberg Polisiestasie kry ook ‘n nuwe baadjie. Die heining is helder geel geverf. Staaldromme is ook oral in die dorp te sien om die rommel probleem te beheer.

kameras is geïnstalleer op verskeie plekke om sekuriteit van die dorp op te skerp, sypaadjies word aangeneem en mooi gehou; kunswerke is te sien op mure; strate word geverf en slaggate herstel en selfs kragbokse kry ‘n nuwe voorkoms.

Alhoewel die Unieveld Sportgronde nou prioriteit is, gaan al die ander projekte voort.

Enige persone of besighede wat betrokke wil raak en wil help om die Unieveld Sportronde vir die gemeenskap en kinders op te gradeer kan met Albert Grobler kontak maak by 083 400 1221.

Daar kan ook ‘n WhatsApp na 066 492 1337 gestuur word om by die Heidelberg Hoop WhatsApp groep gevoeg te word.

Die werk is baie en die tyd is min want die groot makietie om die gesogte titel van Dorp van die Jaar te vier word vir 1 en 2 November beplan.

Opknappingswerk by die Unieveld Sportgronde het reeds begin.
Exit mobile version