Merkwaardige vroue trap diep spore in die onderwys

Waardes soos liefde, omgee, ondersteuning en baie geduld maak die dames personeel in die onderwys uniek en geliefd.

In die laaste week van vrouemaand, het die Heraut met twee vroulike skoolhoofde gesels, wat getuig oor die invloed en rol wat vroue in die onderwys verrig.

Vroue in die onderwys en veral by laerskole speel ‘n kardinale rol wat dikwels onderskat word en speel ‘n reuse rol in die opvoeding van jongmense.

So getuig twee vroulike skoolhoofde, Madele Jansen van Vuuren by Laerskool Hannes Visagie in Nigel en Selma Marx by Laerskool AG Visser in Heidelberg.

“Ons is ‘n verlengstuk van die huis en skep so ‘n veilige omgewing waar ons help om kinders se persoonlikhede te vorm, hulle te leer van positiewe interaksie en om in hulle eie waarde te glo,” het Madele vertel.

“Kortliks probeer ons om in elke kind se lewe ‘n blywende verskil te maak wat ewigheidswaarde het,” het sy bygevoeg.

Nog van Laerskool Hannes Visagie se dames personeel.

Selma is in 2020 aangestel as die eerste vroulike skoolhoof van Laerskool AG Visser en het vertel dat mans yl gesaai is in die onderwys en die dames uit die aard van die saak inspring om alles klopdisselboom te laat verloop.

Die dames in die grondslagfase moes selfs al inspring om mini-rugby en -krieket af te rig en doen dit met soveel motivering en mannemoed dat die seuns, met ‘n puik grondslag, in latere jare floreer.

“Met die sagter aanslag van die dames, glo ek baie kinders kan getuig dat een of ander juffrou by AG Visser hulle geïnspireer het om sekere hoogtes te kon bereik. Soveel mense met wie ek gesels kry ‘n sagte kyk in hulle oë en sê met trots dat hulle ook Vissies was,” het Selma gesê.

Sy het bygevoeg: “Sonder om afbreek te doen aan enige manlike personeellid, kan ek met trots sê dat die dames by AG Visser wonderwerke verrig,” en genoem dat sy dikwels hoor dat juffrouens betaal het vir hierdie of daardie kind of dat daar benodigdhede aangekoop is vir ‘n kind, omdat hulle swaarkry verstaan.

Harde werk word agter die skerms gedoen om seker te maak dat geen kind agtergelaat word as gevolg van omstandighede nie. Waardes soos liefde, omgee, ondersteuning en baie geduld maak die dames personeel in die onderwys uniek en geliefd.

“Dames, sonder julle kan ons AG Visser se deure maar toemaak. Baie dankie vir elkeen se ondersteuning, hulp en opoffering omdat julle geroepe voel om kinders in suksesvolle grootmense te omskep en waar elke kind tel,” is Selma se boodskap aan elke vroulike onderwyser, veral in vrouemaand.

Laerskool Hannes Visagie se dames personeel.

“By Laerskool Hannes Visagie is ons bevoorreg om dames te hê wat meer werd is as robyne en pêrels; dames met innerlike skoonheid, blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dames wat soveel verskillende balle in die lug hou, maar altyd plek het vir enige kind wat seer het, wat hulp benodig of net ‘n drukkie vra,” het Madele vertel.

Sy het bygevoeg dat sy as skoolhoof, die Here dank dat Hy hierdie besondere dames vir die leerders van Laerskool Hannes Visagie en die gemeenskap van Nigel leen.”

Sy het ook genoem dit is belangrik vir elke ouer om te onthou: “Ons is feilbaar, ons maak foute: waardeer en wees lief en praat positiewe woorde teenoor jou kind se onderwyseres. So gaan ons altyd vorentoe.”

Exit mobile version