Vroue helde vereer tydens VLU Rensburg vergadering

Die Albatros Volkspele groep wil graag die tradisie na Heidelberg bring en nooi enige belangstellendes uit om Gert Strydom by 084 787 9999 te kontak.

Afrikaanse kultuur, boereraad en heldinne van die boere oorlog was die onderwerpe van die dag tydens die VLU Rensburg se vergadering op 13 Augustus.

Nadat Marty Jerling, voorsitter die vergadering geopen en almal verwelkom het, het sy oorgegee aan Elmarie Eygelaar wat twee items op haar agenda gehad het om oor te gesels namens die kunstenaar van die jaar, Wouter Kellerman en sy moes ook die produk van die jaar, koeksoda bespreek.

Wouter Kellerman is ‘n Suid-Afrikaanse fluitspeler, vervaardiger en komponis. Eygelaar het inligting gedeel oor sy loopbaan as kunstenaar en toekennings waaronder twee Grammy-toekennings en nege SAMA-toekennings.

“Hy is ‘n besondere kunstenaar en dit is ‘n eer dat ‘n Suid-Afrikaanse kunstenaar se musiek reeds twee Grammy-toekennings ontvang het,” het sy gesê.

Eygelaar het voortgegaan om haar tweede item te bespreek wat die produk van die jaar is.

Annette Steyn (91) geklee in tradisionele boervrou drag tydens die VLU Rensburg-tak se vergadering met Die Boervrou as een van die dag se temas.

Sy het heelwat wenke en gebruike van koeksoda uitgewys, onder andere tande borsel of wit maak, karre was en selfs die blus van ‘n klein vuur.

Koeksoda is beslis ‘n produk om in jou huis aan te hou en sy het die lede aangemoedig om meer oor die gebruike daarvan te gaan oplees.

Die vloer is oorgegee aan die gasspreker Sandra Taljaard wat haar produksie: ‘Die Boervrou en haar volk’ met die lede gedeel het.

‘”n Boer maak ‘n plan maar ‘n boervrou het altyd twee,’ was die woorde waarmee sy geopen het.

Die produksie is reeds 25 keer aangebied en die doel daarvan is om die vroulike heldinne tydens die Voortrekkers te erken en te vereer.

Sy het onder andere gepraat oor Grietjie Prinsloo en Johanna van der Merwe wat deur Dingaan se impies aangeval was en verskeie assegaai wonde opgedoen het maar steeds oorleef het.

Sy het ook gepraat oor die slim planne wat die boervroue gemaak het in die konsentrasie-kampe om hulself steeds netjies geklee te hou en hul kinders te beskerm.

Emily Hobhouse, die Britse welsyn kampvegter en anti-oorlogsaktivis is ook uitgewys as een van die heldinne wat vereer moet word.

Elmarie Eygelaar praat oor die verskeie gebruike van en wenke oor koeksoda.

Sy word hoofsaaklik onthou daarvoor dat sy die konsentrasie kampe besoek het en die walglike omstandighede daarvan by die Britse owerhede aangespreek het.

Taljaard het vertel dat vroue nadat die boere-oorlog verby was, van voor af moes begin.

“Vroue was moedig maar nie verslaan nie,” het sy gesê.

Mimi en Gert Strydom van die Albatros Volkspele groep het gewys hoe die boere, ten spyte van al hul swaarkry, steeds kon dans en het die tradisionele Volkspele dans gedemonstreer.

Mimi was geklee in die unieke styl van daai jare met ‘n lang rok en handgemaakte kappie.

Die Albatros Volkspele groep wil graag die tradisie na Heidelberg bring en nooi enige belangstellendes uit om Gert Strydom by 084 787 9999 te kontak.

Exit mobile version