Local newsSport

Arno mik vir wêreld kampioen titel

Ons weet wat om te doen om seker te maak dat Arno in die toekoms die wêreld kampioen titel sal kan wen.

Arno Carstens (14),’n Graad Nege leerder aan die Hoër Volkskool het vanaf 6 tot 10 Augustus aan die 2024 Jeug Wêreld MMA Kampioenskappe in Abu Dhabi deelgeneem.

Arno is lid van die Ability Academy waar hy deur Stefan Pretorius en Quinton Hendricks afgerig word.

Arno beoefen die sport vir die afgelope ses jaar en het groot drome om ‘n wêreld kampioen te word.

Hy is gevra hoe sy liefde vir die sport ontstaan het.

Arno Carstens in Abu Dhabi waar hy Suid-Afrika verteenwoordig het tydens die Jeug Wêreld MMA Kampioenskappe.

“Ek het die rolprent Gladiator gesien wat my geïnspireer het en vandaar af wou ek in ‘n arena veg voor ‘n groot skare,” het hy gesê.

Arno het eers deelgeneem aan die Gauteng Kampioenskappe waarna hy gekies was vir die Gauteng span om deel te neem aan SAs. Tydens die SAs het hy sy Protea kleure verwerf en gekies om Suid-Afrika vir die derde agtereenvolgende jaar te verteenwoordig op internasionale vlak tydens die Jeug MMA wêreld kampioenskappe in Abu Dhabi.

Hy het ook in Junie vanjaar Suid-Afrika verteenwoordig tydens die Afrika kampioenskappe in Windhoek, Namibië waar hy brons verower het.

Arno Carstens staan reg vir fotos voor ‘n kompetisie.

“Dit is ‘n alleen sport wat ongelooflik baie dissipline en harde werk verg dwarsdeur die jaar. In ‘n oefenkamp voor ‘n groot kompetisie oefen ek ses dae ‘n week tot drie ure per dag,” het hy vertel.

Alhoewel Arno nie deurgedring het na die halfeindstryd in Abu Dhabi nie, weet hy dat hy sy beste gegee het met elke geveg.

“Ek gaan net harder moet werk en my strategie aanpas,” het hy vertel en bygevoeg daar is nie iets soos ‘n maklike geveg op internasionale vlak nie.

Arno Carstens het vanaf 6 tot 10 Augustus aan die 2024 Jeug Wêreld MMA Kampioenskappe in Abu Dhabi deelgeneem.

“Jy moet met elke geveg 100% gefokus wees.”

Arno het teen deelnemers van lande oor die wêreld soos Oekraïne, Engeland, Azerbeidjan en Armenië geveg.
Stefan kon ongelukkig nie saam met Arno in Abu Dhabi wees nie maar het elke geveg gevolg.

Volgens Stefan het Arno verseker die tegnieke wat hulle geoefen het toegepas en daarop verbeter.

Hy sê ook Arno het die regte ingesteldheid en talent en hy sien hom beslis as ‘n wêreld kampioen binne die volgende drie jaar.

Arno se volgende kompetisie is ‘n Submission Kings Jiu Jitsu kompetisie in Johannesburg en intussen berei hy voor om volgende jaar Suid-Afrikaanse kampioen te wees in K1 Kickboxing.

Arno Carstens by van die medaljes wat hy in MMA vegkuns gewen het. Hy mik vir die wêreld kampioen titel.

“As die krag en kondisionering afrigter, glo ek Arno is ‘n uitsonderlike vegter en met elke kompetisie wat hy wen of verloor, sien hy dit as ‘n les waar hy meer leer en pas dit dan toe op die volgende geveg,” het Quinton Hendricks gesê.

“Die toewyding aan sy dieet en oefenroetine ter voorbereiding vir die wêreld kampioenskappe was perfek.
“Ons weet wat om te doen om seker te maak dat Arno in die toekoms die titel van wêreld kampioen sal kan wen,” het Quinton bygevoeg.

“Arno is vasbeslote en gedissiplineerd en werk hard om die titel van wêreld kampioen te vermag.”

Sy leuse is: “As jy positiewe veranderinge in jou lewe wil maak, moenie op die rusbank sit en daarvoor wag nie, gaan uit en maak ‘n verandering.”

Related Articles

Back to top button