VLU Nigel leer van landbou kwessies

Die VLU lede was ingelig oor landbou kwessies en uitdagings

Die VLU Nigel-tak was tydens hul vergadering op 8 Augustus toegespreek deur Johan Pistorius om by hul tema vir die maand van omgewingsbewustheid en landbou in te pas.

Pistorius het ‘n BSc graad in veevoeding en boer sedert 2004 op die plaas Leeuwfontein, net buite Nigel.

Pistorius het gepraat oor die uitdagings in die landbousektor en genoem dat die landboubedryf moet aanpas by verswakte infrastruktuur, mislukte munisipaliteite, en aanhoudende beurtkrag.

“Hierdie faktore beïnvloed die produksiekoste en die vermoë om produkte betyds op die mark te kry,” het hy gesê.

Hy het ook gepraat oor die veranderende weerpatrone en droogtes wat boere beïnvloed en genoem dat boere innoverende maniere moet vind om water te bespaar om hul boerderypraktyke aan te pas by die veranderende klimaat.

Hy het verder ook gepraat oor die beleidsveranderinge en grondhervorming wat onsekerheid skep vir boere en dat duidelike en stabiele beleide nodig is om belegging in die landbou sektor aan te moedig.

Ander uitdagings waarmee boere sukkel is marktoegang en logistiek om hul produkte uit te voer. Hy het genoem dat die uitvoer van landbouprodukte ‘n groot deel van Suid-Afrika se ekonomie uitmaak maar logistieke probleme soos ontwrigtings by hawens kan die uitvoer negatief beïnvloed.

Hettie Botha het as voorsitter ingestaan tydens die VLU Nigel tak vergadering op 8 Augustus. Die tema vir die dag was omgewingsbewustheid en landbou.

“Ten spyte van hierdie uitdagings, toon die landbou sektor veerkragtigheid en aanpasbaarheid. Suid-Afrika se landbou-uitvoere het in 2023 steeds gegroei, wat wys dat daar potensiaal is vir verdere ontwikkeling en sukses,” het hy genoem.

Die VLU lede het Pistorius bedank vir sy insig en kennis.

Hettie Botha wat ingestaan het as voorsitter het die oggend afgesluit met, “Maak roosknoppe bymekaar terwyl dit nog moontlik is. Die tyd vlieg so snel verby – die blom wat vandag nog stralend lag, het more al verwelk en gesterf.”

Die volgende vergadering sal op 12 September plaasvind en die tema vir die dag is ‘Veldbrandslagoffer se pad na innerlike genesing’.

Vir meer inligting kontak Elsa Greyling, woordvoerder, by 083 703 1763.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version