Local news

Hante groet Ons Winkel

Die Solidariteit Ons Winkel op Heidelberg kry ‘n nuwe eienaar.

Hante du Toit (66) het Ons Winkel in Heidelberg in Oktober 2018 geopen in die Heidelberg Forum gebou in Voortrekkerstraat.

Die gemeenskap ken haar as tannie Hante met ‘n hart vir mense en veral vir dié wat swaarkry.

Ons Winkels is die skenkingswinkels van Solidariteit Helpende Hand.

Daar is bykans 127 winkels landswyd waar die publiek skenkings van tweedehandse goedere soos meubels, kombuisware, linne en klere kan maak.

Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Die doel van die Ons Winkels is deel van Solidariteit Helpende Hand se groter gemeenskaspsgebaseerde maatskaplike ontwikkelingsdoelwit.

Hante het in Februarie haar voet gebreek en sal binnekort ‘n operasie ondergaan.

Haar gesondheid het ook die afgelope jaar agteruit gegaan en sy het besluit om die winkel te verkoop.

“Ek gaan semi-aftree en weer fokus op my kreatiwiteit,” het sy vertel.

Sy wil weer haar stories vaspen en beoog ook om haar digbundel te publiseer. Sy sien verder uit om weer haar stokperdjies te beoefen.

“Ek maak handsakke, doen naaldwerk en skilder graag,” het sy gesê en ook genoem dat sy uitsien om meer tyd saam met haar kleinkinders deur te bring.

“Ek is baie dankbaar teenoor die gemeenskap vir al hul skenkings oor die jare en wil almal aanmoedig om aan te hou om die Ons Winkel te ondersteun,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button