Nigel is bobaas in derby wedstryde

Nigel kraai koning na agtereenvolgende wedstryde teen Berge.

Heidelberg Rugbyklub het gasheer gespeel in ‘n wedstryd teen hul bure, die Nigel Rugbyklub in die opvolg derby wedstryde waar die twee klubs teen mekaar speel in die Valke Merlin Liga.

Die wedstryde was op 6 Julie op Hoër Volkskool se veld gespeel.

Heidelberg se eerste span moes die aftog blaas met ‘n telling van 41-31.

In teenstelling met die wedstryd wat op 29 Junie in Nigel plaasgevind het, het Nigel die keer nie met die wedstryd weg gehardloop nie.

Nigel het eerste punte aangeteken met ‘n drie wat suksesvol verdoel was met Heidelberg wat vinnig terug geslaan en self ‘n drie gedruk en verdoel het.

Daarna het Nigel ‘n verdere 22 punte in die eerste helfte aangeteken teenoor die Berge se drie.

Die halftyd telling was Nigel 29 – Heidelberg 10.

In die tweede helfte het Heidelberg hul ritme begin kry en met meer doelgerigte spel vorendag gekom.

Twee drieë was die uitkoms daarvan wat Berge met net vyf punte agter Nigel gelaat het.

Op een stadium het dit gelyk of Berge die oorhand begin kry het, net vir Nigel om ratte te ruil en te verseker dat hulle as oorwinnaars van die veld afgestap het met ‘n verdere twee drieë.

Daar was drie geelkaarte in die wedstryd gegee waarvan Heidelberg twee ontvang het.

Die punte was as volg aangeteken: Heidelberg. Drieë: Duncan van Zyl, Franco Strydom en ‘n strafdrie.

Doelskoppe: Roaan Viljoen (2), Strafdoel: Roaan Viljoen (1)

Nigel: Drieë: Andile Shange, Olivethu Mtyali, Keanan Mouton, Juandre van Dyk, Steven Kok en Lincoln Baadjies. Doelskoppe: Nico Colyn (4). Strafdoel: Nico Colyn (1).

Nigel se tweede span het Heidelberg se tweede span 13-5 geklop.

Beide spanne het mekaar goed opgedreun en verdedig vir ‘n vale.

Heidelberg het een drie gedruk teenoor Nigel se twee drieë en een strafdoel.

Nigel het die naweek van 11 Julie ‘n loslootjie en speel op 30 Julie teen Kempton Wolwe in Kempton Park.

Heidelberg speel op 11 Julie teen Kempton Wolwe op Kempton se tuisveld.

Exit mobile version