Hester se lewe is gevier met kleur in die natuur

“Sy het ons gehelp sien wat die mooi in die lewe is,”

Vriende en familie het op 29 Junie op gepaste wyse afskeid geneem van ‘n besondere vrou wat diep spore in Heidelberg getrap en vele mense se lewens op verskillende wyses aangeraak het.

Hester van Rensburg (62) is op 18 Junie skielik oorlede.

Sy was by haar dogter Esté Gross in Pretoria toe sy van pyn in haar bors en rug gekla het en is kort daarna oorlede weens ‘n skeur in haar aorta.

Hester was geliefd in Heidelberg en die gemeenskap.

Sy was veral geken aan haar kunswerke en kunsklasse wat sy aangebied het.

Hester van Rensburg tussen van haar kunswerke.

Haar kunsskool Appelboom Kuns was haar passie. Sy het die onderwys as beroep gelos om haar passie vir kuns uit te leef en vir meer as 20 jaar die mooiste skilderye te skep.

Haar durf en waagmoed om haarself uit te lewe vir alles waarvoor sy lief was, is een van die eienskappe wat haar so besonders gemaak het.

“My ma het die gawe gehad om die natuur en sy klanke met haar verfkwas vas te pen,” het Esté vertel en bygevoeg dat haar ma, ‘n groot invloed op haar as lewensmentor en haar skryfwerk gehad het.

Behalwe vir haar besondere kuns het Hester ook heelwat kortverhale vir tydskrifte die lig laat sien. Hester was ‘n voorvegter vir die natuur en sy bewaring en het ‘n sleutelrol gespeel in die bewaring van die reuse brulpaddas se habitat in Stasiestraat, Rensburg.

Sy was ook die middelpunt van verskeie groepe in Heidelberg onder andere die Fabulous Woman Club (FBC) wat ‘n gesels- en kuiergroep vir haar en vriendinne was.

Hester van Rensburg in die natuur op ‘n staproete.

Die Dapper Stappers was ‘n groep waar almal wat lief is vir stap haar kon vergesel, veral op haar gunsteling staproetes by die Silver Oaks plaas.

Hester was ook ‘n paar jaar gelede betrokke by Heidelberg DBV as voorsitter.

“Sy het ons gehelp sien wat die mooi in die lewe is,” het haar seun Dérick vertel en getuig van haar betrokkenheid by professionele kunstenaars wat deur haar geïnspireer en opgelei is.

Hester word beskryf as ‘n nederige, wyse en diepsinnige vrou wat ‘n rustigheid uitgestraal het. Haar wens was dus ook dat haar geliefdes haar op dieselfde wyse moet groet na haar afsterwe.

Op 29 Junie het familie en vriende haar lewe gevier met kleur en die natuur; die twee dinge waarvoor sy haar uitgeleef het.

Haar gedenkdiens was by Silver Oaks plaas gehou waar van haar kuns studente van hul gunsteling werke aan haar opgedra het.

Een van Hester van Rensburg se gunsteling werke was om stoele te skilder.

Daar was ook gestap op haar geliefde staproetes en ‘n geelhout boom is ter ere van haar geplant. ‘n Appelboom, een van Hester se gunsteling bome sal ook later vir haar geplant word op ‘n geleë tyd en plek.

Esté het ‘n opsomming van Hester se laaste lewensjaar met Heraut gedeel.

“My ma het aan die einde van 2023 die jaar deur haar oë opgesom. Dit sal vir altyd vir ons een van haar mees spesiaalste skrywes bly,” het Esté gesê.

In Hester se woorde:

“In die flits van ‘n oogwink het 2023 sy laaste vaarwel gesê, en ek staan terug en reflekteer oor die jaar wat so vinnig verbygevlieg het. Dit was ‘n tyd van verandering, groei en diep persoonlike ontdekkinge.

Terwyl die kalenderblaadjies vinniger as ooit omgeslaan het, het ek geleer dat die krag van die huidige oomblik nie onderskat moet word nie.

In die strewe na toekomstige doelwitte en drome, het ek besef dat daar ‘n rykdom aan wysheid en geluk in die teenwoordig lê.

Die lewenslesse van 2023 het my genoop om meer bewus te wees van die klein oomblikke van vreugde, liefde en betekenisvolle verbinding.

Ek het besef dat die lewe nie net oor die bereiking van doelwitte gaan nie, maar ook oor die reis self. Elke dag bring nuwe geleenthede vir groei en selfontplooiing en ek het geleer om elke oomblik te waardeer.

Hester van Rensburg by haar dogter Esté Gross, seun Dérick Gross en dogter Lara Hattingh.

Die jaar het my ook herinner aan die verganklikheid van tyd.

Dit het my aangemoedig om nie uit te stel nie, maar eerder die uitdagings aan te pak, die avonture te omhels en die mense wat belangrik vir my is te koester. Die oomblik is nie net ‘n oorbrugging na die toekoms nie maar ‘n kosbare goudmyn van ervaringe.

So, terwyl 2023 in die agteruitklong van die tyd verdwyn neem ek die waardevolle lesse saam wat ek geleer het om meer aandag te gee aan die huidige oomblik.

Elke dag is ‘n geskenk en ek is vasbeslote om elke oomblik voluit te leef, te leer en te omhels met ‘n hart vol dankbaarheid.”

Hester het ‘n groot leemte in die gemeenskap van Heidelberg, haar kuns studente en veral onder haar geliefdes gelos.

Haar lewe was ‘n toonbeeld van waardering vir elke kosbare oomblik en liefde vir alles wat God geskape het.

Sy leef voort in elke kunswerk, vriendskap en liefdadigheidsdaad wat sy agtergelaat het.

“Ons gaan ma verewig in ons harte en ons doen en late laat voortleef. Dérick, ek, Lara en swaer Jan, ouma, ma se suster, broers, vriende en almal wat so lief was vir ma. Lekker stap in die hemel, my liefste Mamma,” is Esté se afskeidsboodskap aan Hester.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version