Local newsSport

Derby sorg vir tawwe wedstryde

Die derby het veggees van beide klubs getoon.

Die Rugbyklubs van Nigel en Heidelberg het op 29 Junie in die laaste wedstryd in die eerste ronde van die Valke Merlin Liga kragte gemeet op die John Vorster Stadion in Nigel.

Dit was ook die eerste keer in jare dat die twee spanne teen mekaar in ligawedstryde gespeel het.

Wat die geleentheid meer uitsonderlik gemaak het is die feit dat beide spanne vir ‘n nuwe trofee, geborg deur ‘n plaaslike maatskappy, Nasons Trading, sal speel elke keer wanneer die twee spanne teen mekaar meeding.

Nigel het die dag as oorwinnaars van die veld gestap met die telbord op 38-14.

Baie krediet moet egter aan Heidelberg toegeskryf word omdat hulle Nigel in die eerste helfte baie ontwrig het en halftyd die voortou met 14-13 geneem het.

In die eerste helfte het Nigel een drie gedruk, vervyf en twee strafdoele oorgeskop vir hulle 13 punte terwyl Heidelberg twee drieë gedruk het en beide verdoel het vir hulle 14 punte.

Wat ook al halftyd deur die Nigel se afrigtingspan aan hulle gesê is, het gewerk deurdat Nigel met mening ingeklim het en al die punte in die tweede helfte aangeteken het.

Nigel het ‘n verdere drie drieë gedruk, twee doelskoppe oorgeskop asook twee strafdoele vir hulle finale telling van 38-14.

Punte is aangeteken deur:

Vir Nigel is drieë deur Odwa Gcobo, Juandre van Dyk, Lwazi Jamani en Andile Shange gedruk. Doelskoppe: Nico Colyn (3) asook strafdoele (4).

Vir Heidelberg is drieë deur Kevin Schutte en Jaco Els gedruk. Doelskoppe: Armand Wessels (2).

Nigel se tweede span het op hulle beurt Berge se tweedes 35-10 geklop.

In die begin het Nigel die meeste van die speelwerk gedoen en vining ‘n voorsprong van 28-0 opgebou.

Dit het vier drieë en vier doelskoppe ingesluit voordat Heidelberg in die laaste deel van die eerste helfte hulle voete gevind en 10 punte aangeteken (een drie, een doelskop en een strafdoel).

Die tweede helfte was baie mededingend en Nigel kon net ‘n verdere drie en doelskop aanteken.

Wat Heidelberg in die tweede helfte gekortwiek het was die feit wat hulle baie beserings opgedoen het en genoodsaak was om die meeste van die tweede helfte met 14 man klaar te kom as gevolg van die beserings en reëls wat nie toelaat om ‘n speler terug op die veld te sit nadat hy vervang was nie.

Na die wedstryd is Nigel die houers van die Nasons trofee vir tyd en wyl.

Heidelberg en Nigel speel hulle volgende wedstryd op 6 Julie op die Hoër Volkskool veld waar die begin van die Merlin Liga tweede ronde in alle erns sal afskop.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button