VLU-takke bring troos aan kinders met `Ek kan’ projek

Hul projek genaamd ‘Ek kan’ beoog om tussen 200 en 500 blikkies per tak, afhangende van die aantal lede per tak, bymekaar te maak.

Kinders wat deur trauma gaan het dikwels ‘n behoefte aan troos en ondersteuning en een van die maniere om kinders by te staan is deur ‘n troos-blikkie.

Troos-blikkies word geskep uit ‘n blikkie wat herwin word van ingelegte items soos gebakte bone (baked beans).
Die blikkies word versier en gevul met handgemaakte speelgoed.

Blikkies word uitgedeel by kinderhuise, kerke, skole, hospitale vir kankerpasiënte of by die hof as ‘n kind moet getuig en dien as ‘n baken van omgee.

Die Vroue Landbou-unie (VLU) het die troos-blikkies ‘n nasionale projek gemaak.

Hul projek genaamd ‘Ek kan’ beoog om tussen 200 en 500 blikkies per tak, afhangende van die aantal lede per tak, bymekaar te maak.

Die VLU Rensburg-tak se handgemaakte items vir die ‘Ek kan’ blikkies projek.

Die VLU Rensburg-tak is druk besig om hulle bydrae van 300 ‘Ek-kan’ blikkies te maak.

Die lede het op 21 Junie bymekaar gekom om die projek ‘n hupstoot te gee.

Daar was poppies gebrei, beertjies en hasies gehekel en blikkies is versier met ‘n motiveringsboodskap.

“Ek is ‘n klein troetel helper. Ek help jou deur swaar tye. Druk my vas as jy my nodig het,” is die boodskap op elke blikkie.

Marty Jerling, voorsitter VLU Rensburg-tak vertel dat die tak alreeds hul eerste 100 blikkies afgelaai het by die Metodiste Kerk in Heidelberg vir hul vakansie klub projek wat tydens die skoolvakansie sorg dat behoeftige kinders wat gewoonlik by die skool kos kry, nie honger ly in die vakansie tyd nie.

“Dit is ‘n manier om kinders te herinner dat hulle nie alleen is nie en dat daar mense is wat omgee,” het Jerling gesê.

“Dit is ‘n eenvoudige gebaar wat ‘n groot verskil kan maak in ‘n kind se lewe,” het Jerling bygevoeg.
Sy het ook genoem dat die tak nog blikkes benodig.

Die grootte van die blikkies is 410g. Enigeen wat blikkies, karton, papier of wol kan skenk, kan vir Jerling by 082 465 9343 kontak.

Lede van die VLU Rensburg-tak wat op 21 Junie bymekaar gekom het om te werk aan die ‘Ek kan’ blikkies projek.
Exit mobile version