Local news

Gestorwe kamerade tydens kranslegging onthou

Tydens die seremonie word gestorwe kamerade, wat deel van Heidelberg asook die Heidelberg Kommando was onthou.

Die jaarlikse kranslegging van die Heidelberg MOTHS Shellhole, Suikerbosrand het Sondag by die ou tronk plaasgevind. Die seremonie is ‘n tradisie, wat elke jaar voortleef.

Tydens die seremonie word gestorwe kamerade, wat deel van Heidelberg was asook van die Heidelberg Kommando onthou, en hulde word aan elkeen gebring.

MOTH Iain McKay het die seremonie geopen en almal verwelkom, waarna ds Quinten Schimper die skriflesing en gebed waargeneem het.

Ou Bill, Tony Burisch het die gaste vertel van twee konstabels van Heidelberg wat in die 1937 opstande met hulle lewe in Vereeniging geboet het. Die konstabels was Lourens van Staden en Greyling.

Beide die konstabels is in die Heidelberg se Kloof begraafplaas begrawe.

Evert Pistorius het daarna ‘n gedig voorgelees wat die storie van Salmon van As uitgebeeld het.

Die kranslegging is begin met Veld-Kornet Salmon van As wat onthou is. Hy is deur die Britse soldate by die tronk tereggestel, tydens die tweede Anglo-Boereoorlog.

Tydens die Anglo-Boereoorlog het van As glo ‘n kaptein Miers doodgeskiet.

Op 23 Junie 1902 is van As deur ‘n Britse hof aan moord skuldig bevind en tot die dood veroordeel. Hy was net agter die tronk deur ‘n vuurpeloton tereggestel. Tien Britse soldate was deel van die vuurpeloton.

Van As was eers agter die tronk begrawe maar later herbegrawe in die helde akker in die Heidelberg Kloof begraafplaas.

Jare later het die Britse regering erken dat hy foutief tereg gestel was.

Daarna was die kranslegging vir die gestorwe Heidelberg uniform draers gedoen.

Verskeie MOTHS regimente asook SAWV, Eenheid Suikerbos het ere gebring aan diegene wat gesterf het in hulle diens aan Suid-Afrika.

Tydens die seremonie het Ou Bill Brian Wickens ook dasse vir lang diens aan verskeie MOTHS oorhandig.

Die ontvangers daarvan is Evert Pistorius (10 jaar), Jan Venter (20 jaar), Johan Strydom (30 jaar), Kraay van Kraayenburg (30 jaar) en Jacky van Rensburg (30 jaar).

Related Articles

 
Back to top button