Local news

Prontuit: Doen net jou beste sê slimkop Raychel

Haar gunsteling vak is natuurwetenskap en sy geniet veral die eksprimente wat hulle doen. Sy spog met ‘n 90% prestasie vir die vak maar haar beste vakke die afgelope kwartaal is Afrikaans waarvoor sy 99% gekry het en sosiale wetenskap waar sy 100% behaal het.

Die Heraut leer ons mense ken en het die week by ‘n spesiale jong inwoner gaan kuier.

Raychel Pereira (10) is ‘n Graad Vyf leerder by die Laer Volkskool.

Sy is die oudste kind van Julian en Maretha Pereira en sy maak beslis haar ouers uiters trots.

Sy spog met ‘n gemiddeld van 95% die afgelope twee kwartale en handhaaf hierdie soort hoë punte vandat sy met skool begin het.

In 2023 het Raychel toekennings ontvang vir algehele beste akademiese presteerder in Graad Vier, asook vir beste presteerder in Engels en lewensvaardigheid.

Behalwe vir haar uitstekende akademiese prestasies, staan sy ook uit in dans en het in 2023 as lid van Felicia Fitness en Dans Skool ‘n prestige toekenning gekry by Heidelberg Eisteddfod vir deelname in die groepdans; ‘Possibility’.

“My gunsteling vak is natuurwetenskap en ek geniet veral die eksperimente wat ons doen,” het Raychel vertel.
Sy spog met ‘n 90% prestasie vir die vak maar haar beste vakke die afgelope kwartaal is Afrikaans waarvoor sy 99% gekry het en sosiale wetenskap waarvoor sy 100% behaal het.

“Dit is belangrik om goed te presteer sodat jy ‘n goeie toekoms kan hê,” het sy gesê en bygevoeg dat haar ma redelik streng is en haar aanmoedig om hard te leer.

Hierdie slimkop wil eendag ‘n dokter word want, volgens haar, is dit net so belangrik om mense te help as om hard te leer.

Sy beskryf haarself as ‘n dood gewone meisie, met ‘n baie sagte hart, wat daarvan hou om behulpsaam en aktief te wees.

“Ek het nie net een gunsteling persoon nie. Ek is baie lief vir my gesin en geniet ook tyd saam met my vriende,” het sy voortgegaan.

Haar gunsteling kos is lasagne en haar stokperdjies is dans, sing en kuns.

In vakansies geniet sy tyd saam met haar gesin.

Sy het ‘n boetie Gabriel wat onlangs vier geword het en beslis in sy sussie se voetspore gaan volg, want op vierjarige ouderdom herken hy elke dinosourus op sy naam.

Raychel se motivering vir enige een wat sukkel met skoolwerk is om net jou beste te doen, want jou beste is goed genoeg.

“Ek is dankbaar vir my ouers wat altyd net die beste vir my wil hê en vir Liewe Jesus wat my seën met my talente en gawes,” het sy afgesluit met ‘n stralende glimlag.

Related Articles

 
Back to top button