Lag een maal per dag hardop, sê Hante

Die Heraut leer ons mense ken en het hierdie week met Hante du Toit (66) gesels.

Mense sal Hante ken as die tannie by Solidariteit Ons Winkel, geleë in die Heidelberg Forum geboun in Voortrekkerstraat.

Hante is ‘n weduwee; sy het twee kinders en vyf kleinkinders.

Sy was in Vryburg gebore en het skoolgegaan in Reivilo en Stella.

Hante het ‘n hart vir mense en dit is vir haar ‘n passie om veral met kinders te werk.

“As ek vanaand gaan slaap en weet ek het gehelp om net een kindermagie vol te maak, is ek gelukkig,” vertel sy.
Sy is vir sewe jaar aktief betrokke by Ons Winkel van Solidariteit.

“My werk maak my gelukkig, maar ook soms hartseer, veral as ek sien hoe baie nood daar onder mense is.”

Hante vertel sy kry nie baie tyd vir stokperdjies nie want sy geniet haar kleinkinders wat gewoonlik by haar is. Wanneer daar tyd is sal sy lees of iets kreatiefs doen.

Sy het onlangs ook ‘n leeshoekie by Ons Winkel ingerig waar mense rustig kan sit en lees.

Wanner sy wel vakansie kan hou, sal sy die Weskus kies en haar gunsteling kos is braaivleis. Vir haar is daar niks lekkerder as ‘n skaaprib oor die kole nie.

Die interessantste ding wat sy al beleef het was om kunsmis aan boere te verkoop.

“Jy moet hare op jou tande hê,” vertel sy grappendergewys.

Haar droom is om eendag Ierland of Skotland toe te gaan.

Iets wat min mense van haar weet is dat sy ‘n bekwame skrywer en digter is en al ‘n paar kompetisies ook gewen het.

Haar boodskap aan die gemeenskap is dat mense meer na mekaar moet luister en ondersteun.

“‘n Mooi woord vir iemand wat werklik moedeloos is beteken so baie vir die persoon.

“Wees vriendelik en lag ten minste eenmaal per dag hardop. Dit maak alles ‘n bietjie makliker,” het sy mee afgesluit.

Exit mobile version