Berge verras amper vir Meyerton

Naelskraapse nederlaag vir Heidelberg se eerste en tweede spanne.

Heidelberg Rugbyklub het op 25 Mei teen die huidige Merlin kampioenspan, Meyerton Knights, staan gekom.

Die wedstryde was op Hoër Volkskool se veld beslis.

Die eerste span het naelskraap met 34-27 die onderspit afgebyt.

Heidelberg het eerste punte aangeteken deur ‘n strafdoel wat in punte omskep was.

James Atterbury neem die bal vorentoe.

Daarna vir die meerderheid van die eerste helfte het Meyerton Knights gewys hoekom hulle die huidige kampioene is. Hulle het al die speelwerk gedoen wat Heidelberg gedwing het om te verdedig vir ‘n vale.

Meyerton het vier drieë gedruk en een drie verdoel voordat Berge hul eerste drie net voor halftyd gedruk het.
Die halftyd telling was Heidelberg 8 – Meyerton 22.

Bongi Ntuli laat die teenstanders kop krap.

In die tweede helfte het Heidelberg meer konstruktiewe spel begin speel en het Meyerton onder druk begin plaas.
Meyerton het meer foute begin maak en het ongedissiplineerd begin speel.

Die skeidsregter moes hulle talle kere gewaarsku het.Dit het gevolg dat twee geel- en een rooikaarte aan Meyerton toegeken is.

Heidelberg het daarna mooi begin terugveg en het drie drieë gedruk met een suksesvolle doelskop, teenoor Meyerton se enkele drie.

Die Berge op die aanval.

Die telling was 27-27 toe Meyerton in die laaste paar minute Heidelberg se verdediging oopgevlek het om die wendrie te druk wat verdoel was.

Heidelberg het teen die einde ook twee kaarte ontvang vir ongeoorloofde spel.

Heidelberg se punte is as volg aangeteken: Drieë: Nantus Mouton (3) en Jaundré Goosen (1), doelskop: Armand Wessels (2) en strafskoppe: Armand Wessels (1).

Heidelberg en Meyerton se eerste spanne in ‘n lynstaan.

Morné Human het sy 50ste wedstryd vir Heidelberg gespeel.

Heidelberg se tweede span het op hulle beurt hul eerste nederlaag in die Merlin Liga gehad en het naelskraap met 13-17 nie die pyp gerook nie.

Berge se tweede span was halftyd 10-5 voor gewees.

‘n Skrum tussen Heidelberg en Meyerton se eerste spanne.

‘n Paar verkeerde besluite het die span duur te staan gekom en hulle moes wegstap met hul eerste verloorwedstryd in die liga.

Heidelberg het een drie, een vervyfskop en twee strafdoele in punte omskep terwyl Meyerton met drie drieë en een vervyfskop suksesvol was.

Heidelberg se tweede span op die aanval.
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version