Blou Plaatjie Vir Erfenis toekenning vir 1890 preekstoel

Die preekstoel is in 2002 na Hoër Volkskool verskuif om deel van die kultuur van die skool te vorm.

Die Heidelberg Erfenis Assosiasie het op 17 Mei Blou Plaatjie erfenis status aan die ou preekstoel by die Hoër Volkskool toegeken.

Die plaatjie is nommer 77 in die reeks van Erfenis onthullings in Heidelberg.

Die gebeurtenis is deur al die leerders en onderwysers van die skool, asook ander gaste bygewoon.

Onder die besoekers was lede van die MOTHS, ATKV, en SAWV Eenheid Suikerbos.

Die skool se hoofseun Matthew Wentzel en hoofdogter Hester Rossouw het die verrigtinge geopen.

Tony Burisch van Heidelberg Heritage Association het daarna interessante inligting oor die preekstoel gedeel.

Die preekstoel was oorspronklik in die Klipkerk gebruik na die bou van die kerk in 1890.

Ds NJ Van Warmelo (1835-1892) was die leraar van die Nederduitse Hervormde Kerk.

Na die dood van van Warmelo het ds AJ Louw die leisels oorgeneem.

Na die tweede Anglo-Boereoorlog was dit wet dat alle skole in Engels geleer moes word.

Louw het toe ‘n skool in die kelder van die Klipkerk begin waar hy Nederlands as leertaal gebruik het.

In 1907 het die skool as Laer Volkskool sy naam gekry.

Louw het ook op komitees gesit om die Normaal Onderwys Kollege in Heidelberg te stig.

Vandag is die perseel die Heidelberg Weermag Gymnasium.

Verder was Louw betrokke met die bouery van Hoër Volkskool en sy drie koshuise. Hierdie koshuise is sedertdien afgebreek.

In 1952 is ‘n houtpreekstoel met houtpanele by die klipkerk geïnstalleer. Die oorspronklike preekstoel was eers kelder toe verskuif en daarna in 2002 na Hoër Volkskool verskuif om deel van die kultuur van die skool te vorm.
Fred Calitz van die ATKV het die leerders toegespreek.

“Wees trots op jou kultuur en jou taal. Afrikaans is deel van ons en ons moet dit behoue laat bly” het Calitz gesê.

Frik van Niekerk, SAWV Eenheid Suikerbos voorsitter het gesê dat SAWV Eenheid Suikerbos is gesteld op die erfenis in die gemeenskap asook die jeug. “Ons wil verseker dat die jeug van vandag kennis dra van die geskiedenis wat in Heidelberg afgespeel het en wat dit vir ons beteken, het Van Niekerk gesê.

“Ons wil ook dat die jeug sal deel in ons erfenis en dit te alle koste beskerm.”

Die borge vir die plaatjie was die SAWV Eenheid Suikerbos en die ATKV.

Exit mobile version